Local sportSport

Naka Bulle verniel Harlequins, Grizzlies wen spannende stryd teen Centurion

Terwyl die verdedigende Castle Carltonbeker kampioen, Naka Bulle, Saterdag op hul tuisveld gewys het dat hulle nie maklik van die troon gestamp gaan word nie, het die Grizzlies van Tuine weer hul stemme in Centurion dik gemaak en gewys dat hulle so vroeg in die seisoen reeds as moontlike kandidate vir die uitspeelrondtes geoormerk kan word.

Die span wat vanjaar die Carltonbeker wil verower sal eers by ’n verwoede trop bere verby moet kom.

Week twee van vanjaar se Castle Carltonbeker toernooi het weer onderstreep dat Mick Helena se span uit Tuine vanjaar ernstige aanspraakmakers op ’n plek in die uitspeelrondtes gaan wees, nadat hulle hul triomf teen Tukkies opgevolg het met ’n swaarverdiende 34-33 oorwinning teen Centurion.

Maklik was dit egter nie vir die manne uit die Weste nie. Trouens, hulle ondersteuners moes tot in die doodsnikke van die wedstryd wag voor hul Ramkat senter, Blanché Terblanché, die wendrie kon druk.

Nadat Tuine se losskakel, Rodwill Baatjies, sy span se rekening binne een minuut na die afskop met ’n strafdoel geopen het, was dit Centurion wat sewe minute later met hul goed-geoliede pak voorspelers oor die doelyn kon dryf vir die eerste drie van die wedstryd.

Die Grizzlies het vyf minute later terugeslaan met ’n soortgelyke drie om weer voor te loop en toe hulle van die daaropvolgende afskop af ’n fout van Centurion onder ’n hoë skop uitbuit vir ’n verspotmaklike drie deur die flank Adrian Sebenje, was die tuisspan onder druk.

Die Grizzlies se agtsteman, Hugo Viljoen, was ‘n staatmaker in die lynstane vir sy span in hul Carltonbeker wedstryd teen Centurion.
Foto: Koos Venter

Centurion se losskakel en kaptein, Cornel Korff, het egter kop gehou en van ’n skrum af die besoekers onkant gevang met ’n fop-beweging om heelagter Mauritz Maritz oor te stuur vir ’n drie.

Die patroon is voortgesit met Grizzlies wat hul derde drie voor rustyd kon druk, terwyl Maritz se tweede ook sy span se bonuspunt drie beteken het. Rustyd het die tuisspan dus met 28-24 voorgeloop.

In die tweede skof het die armdruk-stryd voortgegaan en elk span kon die doellyn slegs een keer haal.

Baatjies se skopvoet was egter die verskil, aangesien hy ’n doelskop en strafdoel bygevoeg het, terwyl Korff se doelskop-poging skeefgetrek het.

– In die Moot was dit meestal eenrigting verkeer toe Naka Bulle vir Harlequins se tweede nederlaag in twee wedstryde gesorg het.

Die tuisspan het die doellyn tien keer oorgesteek, terwyl die manne uit Groenkloof slegs drie drieë kon druk.

Chaka Croukamp, bestuurslid van Harlequins (links), oorhandig die Charles van Staden wisseltrofee aan Naka Bulle se kaptein, Ruan Grundelingh, na Saterdag se Carltonbeker wedstryd tussen die twee klubs. Dié trofee is jaarliks op die spel wanneer Naka Bulle en Harlequins mekaar in die se Carltonbeker toernooi aandurf.
Foto: Johanna de Vos

Naka Bulle se kaptein, Bielie Grundelingh, het die telbord reeds na vyf minute se aksie aan die gang gesit met die eerste drie van die dag, terwyl binnesenter Xavier Human vier minute later oorgebeur het.

Quins het daarna vir sowat 20 minute beter weerstand gebied, maar die tuisspan is voor rustyd nog twee keer oor die doellyn om met ’n bonuspunt in die skakkie te gaan water drink.

Kaptein Eugene Hare het die Blokkiestruie se eerste punte kort na die afskop van die tweede skof aangeteken toe hy ’n losbal opgepik het en sy spoed gebruik het om onder die pale te gaan druk.

Hoewel Harlequins moedig probeer het, kon hulle nie al die gate toestop nie en halfpad deur die tweede helfte was Naka Bulle se vyftigtal reeds op die telbord.

Die besoekers kon wel daarin slaag om nog twee drieë te druk, maar hulle moes met leë hande huistoe gaan, terwyl die verdedigende kampioen hul stem behoorlik dik gemaak het.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button