Nóg ’n oorwinning oor Tuks wys Grizzlies kán saam met die groot honde blaf
Die Grizzlies het Saterdag met ’n oorwinning in ’n opwindende tweederondte wedstryd oor Tuks in vanjaar se Castle Carltonbeker toernooi gewys dat hul eersterondte oorwinning oor die studente geen vloekskoot was nie.
Die Grizzlies van Tuine het Saterdag op die Tuks Sportkampus in Hatfield geskiedenis gemaak toe hulle die Tuks rugbyspan met ’n reuse telling van 57-47 geklop het in die eerste ligawedstryd van die tweede rondte in vanjaar se Castle Carltonbeker toernooi.
Met hierdie oorwinning het Grizzlies vir die eerste keer ooit daarin geslaag om die studente twee keer in een seisoen pakslae te gee.
Die manne van die weste, wat met dieselfde ligapunte as Naka Bulle geëindig het ná die eerste rondte van die kompetisie, maar moes toekyk hoe hul Moot-bure die Lucas Strachan-skild met ’n beter punteverskil huis toe neem, is duidelik op ’n missie vanjaar.
Saterdag se wedstryd tussen Tuks en die Grizzlies was die enigste bepalig van die naweek in die toernooi en met hierdie oorwinning het die Grizzlies die druk op die res van die spanne laat toeneem op pad na die uitspeelrondtes in Augustusmaand.
Soos die telling aandui was hierdie wedstryd nie eintlik ’n advertensie vir goeie verdediging nie. Aan die ander kant was dit wel ’n skouspel vir die toeskouers en die 104 punte wat in 80 minute aangeteken is het 15 drieë (waaronder twee strafdrieë) ingesluit.
Tuks het eerste punte aangeteken met ’n drie na agt minute se spel.

Foto: Koos Venter
Hierna het waarskynlik die langste puntelose periode gevolg met ’n effense armdruk-sessie van sowat twaalf minute. Grizzlies se eerste punte het gekom van ’n strafdrie, nadat hulle uit hul eie kwartgebied aangeval het en binnesenter Werner Schoeman kort voor die doellyn sonder die bal gespeel is.
Vanaf die volgende afskop het losskakel Rodwill Baatjies die Tuks verdedigers oorhoops gevang met nóg ’n aanval vanuit sy eie gebied en 70 meter verder was dit Schoeman se sentermaat, Blanché Terblanché, wat die manne van Tuine se tweede drie kon verseker.
Ten spyte van die die feit dat Grizzlies in die laaste tien minute van die eerste helfte twee geelkaarte moes verduur, het hulle die inisiatief behou en nóg drie keer gaan druk om nie net hul bonuspunt te bank nie, maar ook met 31-14 voor te loop teen rustyd.
Tuks het in die tweede helfte weer eerste punte aangeteken, nadat hulle óók uit hul eie gebied met ’n teenaanval begin het.
Nóg ’n strafdrie, dié keer aan Tuks nádat hul dryfbeweging naby die doellyn afgetrek is, het die laaste halfuur van baie aksie en nóg ses drieë – drie aan elke span – ingelui.
Terwyl hierdie wedstryd met sy opwindende hardlooprugby ongetwyfeld heelwat vermaak aan die toeskouers verskaf het, kan albei spanne van beker-glorie vergeet as hulle aanhou om soos Saterdag te verdedig.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
