Boks “rebelle” bied reuse toernooi in Pretoria aan
’n Reuse bokstoernooi met 25 aksiebelaaide gevegte vind eerskomende Saterdag by die Pebble Rock Golf Club & Country Estate noord-oos van Pretoria plaas en dié toernooi kan ’n nuwe era van boks-aksie onder die vaandel van die gewilde “White-collar Boxing” konsep vir plaaslike boksliefhebbers inlui.
’n Nuwe era het die afgelope paar jaar aangebreek vir die boksgemeenskap van Suid-Afrika met die koms van “White-collar Boxing” wat besig is om soos ’n veldbrand te versprei.
Hoewel hierdie konsep oorsee aanvanklik vanuit gewone fiksheidsgimnasiums en via sosiale media posgevat het, lyk dit of al hoe meer amateurboksers dié nuwe neiging gebruik om hul frustrasie met die voetesleep tendense by die owerhede van beide amateur- en professionele boks te oorkom.
Boksers se grootste frustrasie is die gebrek aan geleenthede om amptelik in die kryt te klim en die gewildheid en goeie organisasievermoëns van “White-collar Boxing” blyk nie net ’n rebelle-aksie te wees nie, maar ook ’n welkome oplosing vir hierdie probleem.

Boksliefhebbers van Pretoria word eerskomende Saterdag getrakteer met ’n groot toernooi wat aangebied word deur Wikus en Joany Buys se House of Chrome gimnasium. Hoewel dié gimnasium in Brooklyn (Pretoria) gesetel is, sal die toernooi by die Pebble Rock Golf Club & Country Estate naby die Roodeplaat dam in die noord-ooste van Pretoria aangebied word.
Hierdie baanbreker toernooi sal reeds om 13:00 afskop en 25 gevegte is op die spyskaart. Altesaam 21 boksklubs en gimnasiums, wat amateur- en professionele boksers akkomodeer, sal by die toernooi betrokke wees. Deelnemers sal van oral uit Gauteng en selfs van so ver as Naboomspruit in Limpopo reis om deel te wees van die aksie.
Die toernooi skop af met ’n vroue-geveg, waarna gevegte van boksers uit verskillengde gewigsafdelings en ervaringsvlakke sal volg. Joany Buys sal later op die program self in aksie wees wanneer sy Fransie van Zyl van die Hitman Acadamy in Pretoria se Moot sal aanvat.

Altesaam 12 van die bekende Backhouse Boxing klub in Montana se boksers sal deur die loop van die program in aksie wees. Volgens die klub se hoofafrigter, Charles Backhouse, werk hy en sy mede afrigters Tommy Cato, Roedolf Venter, André Oosthuizen, Divan Vermeulen en Jean Botes hard om hul boksers gereed te kry vir hierdie geleentheid.
Dié klub se opkomende ster, Jonathan Swart, sal in die hoofgeveg van die dag teen die voormalige professioele bokser en Gemengde Gevegskuns atleet, Joel Kadima, te staan kom in ’n junior swaargewig (cruiserweight) geveg.
Die 21-jarige Swart, wat sedert sy junior dae deur die deurwinterde Backhouse afgerig word, is ’n voormalige SA jeugkampioen en vyfmalige provinsiale amateurkampioen.

Hy het onlangs ’n opskudding in Kaapstad veroorsaak toe hy die verdedigende kampioen tydens ’n Fight Island toernooi in die tweede rondte uitgeslaan het. Na die vertoning is daar groot belangstelling uit professionele kringe in Swart en hy is reeds genooi om sy Fight Island titel in Desember te verdedig.
Een van Backhouse Boxing se nuwe lede, Calvin Jooste, sal in die hoof-voorgeveg teen Tiaan Victor van die bekende Smiths Boxing Gym in Fourways, Johannesburg, te staan kom.
Jooste spog met vyf Suid-Afrikaanse skopboks titels en verskeie kampioenskaptrofees in Gemengde Gevegskuns. Hy het ook al drie titels by die bekende Arnold Classic Sportfees gewen. Dié talentvolle sportman wil vir eers fokus op sy boksloopbaan en werk deesdae hard in Backhouse Boxing se gimnasium.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.