Local News

Prof. Engelbrecht gee raad vir duiwe voer in jou tuin

sê 'n waterbad of fontein is goeie bronne vir water en die voëls geniet dit om daarin te bad ook.

POLOKWANE – Duiwe is dikwels geneig om ander voëls se kos te vreet voor hul slagoffers nog daaraan kan dink om dit self te eet.

Om hierdie gedrag in jou tuin te vermy, hoor lede van die Pietersburg Tuinbouklub onlangs, moet jy die duiwe eenkant voer en vir die kleiner voëls ‘n draad span om hulle vreetplek, waar hulle – en nie die duiwe nie – kan deurbeweeg.

Prof. Derek Engelbrecht het tydens die klub se maandelikse vergadering raad aan die lede gegee oor hoe om voëls na hulle tuine te lok. Engelbrecht is ‘n ywerige voëlkyker en behoort aan die Polokwane Voëlklub. “Daar is drie belangrike elemente wat jy in jou tuin moet hê om voëls te lok. Water, kos en skuiling. Verskillende spesies voëls bly op verskillende plekke in jou tuin.”

Hy sê ‘n waterbad of fontein is goeie bronne vir water en die voëls geniet dit om daarin te bad ook. Die waterbad moet net goed skoongemaak word en elke tweede dag ontsmet word. Met die fontein sirkuleer die water beter.

“Kos kan verdeel word in natuurlike kos soos plante met blomme, vrugte en insekte. Voëls is lief vir die witbessiebos, spekboom, Acacia en aalwyne. Bome wat ‘n rowwe bas het, is ook ideaal aangesien daar goggas agter die bas skuil. Kunsmatige kos is saad, grondboontjiebotter, vrugte, ‘n nektarhouer waaruit die voëls kan drink en rosyntjies. Daar is ook meelwurms. Hulle moet lewendig wees.”

Engelbrecht raai die lede aan om eerder nie brood vir die voëls te gee nie, aangesien hulle dit nie kan verteer nie. Dit maak hulle dus vol, maar voed hulle nie.

“Wat skuiling aanbetref is dit goed om in stil areas in jou tuin strukture op te sit waarin die voëls kan nes maak. Daar is drie vlakke waar voëls bly. Die grondvlak, middelvlak en dan die boomtoppe. Dooie hout is ‘n goeie toevoeging tot jou tuin vir nesmaak en kos. Nesbokse is ook gewild om in jou tuin te hê.”

Engelbrecht verduidelik dat slegs twee uit elke 10 kuikens die nes verlaat. Wanneer jy ‘n voëltjie op die grond kry en hy het vere, moet jy hom los, sy ouers sal vir hom sorg.

“Baie keer word ‘n kuiken uit die nes geskop as daar nie genoeg kos is nie of as hy gebreklik is. Soms verlaat die voël die nes – as gevolg van ‘n gebrek aan ruimte – voor hy kan vlieg en dit is hier waar die ouers steeds vir hom sal sorg.”

Soos met enige ander dier het voëls ook natuurlike vyande, soos katte. Volgens Engelbrecht is katte die grootste roofdier as dit by voëls kom.

“Die klokkies om die nek werk nie om die voëls af te skrik nie. Daar was ‘n studie gedoen waar bevind is 450 000 voëls word per jaar in Kaapstad deur katte gevang.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button