24ste Swartgoud Fees beloof om pret te wees
Die Swartgoud Fees word vanjaar op 9 en 10 Junie vir die 24ste keer aangebied.
“Die fees is om die draai en na baie harde werk, is ons reg om aan almal se verwagtinge te voldoen.
“Daar gaan vanjaar verskeie uitstallers wees vanaf mediese beddens tot mampoer, ’n stalletjie waar jy jou eie kolwyntjie kan versier, biltong en baardolie en die nuwe Ford en Isuzu,” het een van die organiseerders gesê.
Gaskunstenaars wat vanjaar gaan optree, sluit in Touch of Class, Brendan Peyper, Etha, Majozi, Kurt Darren en die Ga-Nala Jeugkoor.
Almal met unieke, eksotiese, klassieke en sportmotors word genooi om ’n dag vol pret en plesier te gaan geniet.
Motoreienaars wat voertuie uitstal, sal gratis toegang vir die bestuurder asook een passasier kry.
Hulle sal ook toegelaat word om ’n regte kattebakverkoping (boot sale) te ondervind waar alle motorverwante items te koop aangebied mag word.
Die Ludick-broers van Witbank gaan met sowat 10 van Mpumalanga se beste “dragster”-voertuie spog.
Die Speed & Sound Drag Team gaan hul motors ook laat brul en almal gaan die geleentheid kry om foto’s by die motors te neem.
As jy jou motor op die Mobile Dyno-masjien wil laat toets, sal jy vinnig in die ry moet staan omdat slegs 45 motors op die dag op die terrein getoets sal word.
Vir diegene met die groot klanksisteme, sal daar ook ’n klankkompetisie wees wat deur die Nitro Crew beheer sal word.
’n Streng geen alkoholbeleid sal gehandhaaf word deur feesgangers wat hul eie drank wil inbring en voertuie sal by die hek deursoek word.
Die polisie sal ook daar wees om dit te help beheer en kansvatters sal lig daarvan afkom nie.
’n Biertuin sal wel jou dors kan les en jy sal saam met jou vriende om kampvure die rugby op ’n grootskerm kan geniet.
Unieke bierbekers sal in die biertuin beskikbaar wees en sal as ’n goeie aandenking kan dien.
Die organiseerders nooi almal om ’n naweek vol pret en plesier saam met hulle en die borge te kom meemaak.
Die fees word weer op Laerskool Krielpark se terrein aangebied en die hek waar jy toegang vir jou motor kan kry, is oorkant Groenlaan 46.
Die hekke maak reeds om 8vm oop en toegang kos R50 per persoon.
Vir meer inligting, skakel Jacques by 082 966 9408, stuur ’n e-pos na swartgoud@vodamail.co.za of volg hulle op Facebook.


