Kô lag ’n bietjie saam met Andries Vermeulen
Na die weghol-sukses van sy stories CD, Want hy Vertel so Lekke, en sy musiek CD, Bakbeen Anties, wat reeds 15 000 eksemplare verkoop het, is die Sandveld/Weskus-storieverteller en sanger Andries Vermeulen terug met sy beste versameling van Weskus- en Namakwaland-stories en -musiek.
Sy nuwe dubbel CD-vrystelling, Kô Lag ’n Bietjie met 35 stories en 10 nuwe liedjies, is dié vermaaklikheidskunstenaar se beste nog en verstaan jy waarom hy so gewild is by sy gehore.
Die nuwe vrystelling van Vermeulen het in Junie verlede jaar die SA Top 20 beste verkopelys gehaal.
Die Weskus-geur kom weer voor in die nuwe dubbel CD en jy hoor selfs snitte wat spesiaal geskryf is deur Elvis Blue en Steve Hofmeyr wat ook saam met Vermeulen op die CD verskyn.
Dit is geen geheim waarom dié kunstenaar wat sy stories en musiek tydloos en lewendig maak, al vir ’n Sama, twee Huisgenoot Tempo-toekennings en Beste Fiësta-aanbieder benoem is nie.
Vermeulen het ook saam met sy mede storievertel-vriend, Pietman Geldenhuys, ’n storieverteltelevisieprogram, OppieStoep, wat op Kyknet uitgesaai is, aangebied.
Skaterlag word gewaarborg met Andries se storievertelvermoë.
Hy tree Vrydag, 26 Mei by die Secunda Vliegveld op.
Daar sal aanwysings wees.
Vir meer inligting, skakel Pieter by 083 997 2418, Mari by 083 866 2511 of Hybrie by 084 208 4176.