Editor's choiceGalleriesSports galleries
CMR hengelkompetisie het groottes laat kant toe kom
STANDERTON – As daardie visvang gogga eers gebyt het is dit verseker ‘n perd van ‘n ander kleur, voor ‘n kompetise word die stroppies gemaak, elkeen op sy spesiale manier. Niemand se knope mos so sterk soos jou eie nie, niemand se stroppies so lekker vir die visse soos joune nie. Elke visserman sal hulle …
STANDERTON – As daardie visvang gogga eers gebyt het is dit verseker ‘n perd van ‘n ander kleur, voor ‘n kompetise word die stroppies gemaak, elkeen op sy spesiale manier.
Niemand se knope mos so sterk soos jou eie nie, niemand se stroppies so lekker vir die visse soos joune nie.
Elke visserman sal hulle kan vereenselwig met hierdie stellings.
Die onlangse Christelike Maatskaplike Raad (CMR) van Standerton en Bethal se hengelkompetisie wat gehou is by die Meyerville en Standerton en Distrik hengelklub se terrein, het 130 hengelaars opgelewer.
Agt afdelingwenners is op dié dag gekroon en het van oor tot oor geglimlag.
Die grootste karp in die mansafdeling is deur Klaas Ceronia, met ‘n 4,80kg kneuwel, gevang.
Hy het met sy vangs die halwe bees gewen.
In die vroue-afdeling was Ina van Niekerk eerste met ‘n karp van 3,34kg.
Damon Olwage het met sy 3,66kg karp in die juniorafdeling koning gekraai.
Niel van Rensburg se baber van 2,12kg het hom die voortou gegee in die mansafdeling.
Poppie Moll het in die vroue-afdeling gewys hoe word dit gedoen met ‘n baber van 1,22kg.
Met sy 0,64kg baber het Ewer Ceronio ‘n skaap losgeslaan.
In die mansafdeling het Peet Lombard die grootste modderbek kant toe gesleep van 0,80kg.
Ilene Schonken het eerste plek behaal in die vroue-afdeling met haar 0,74g modderbek. Nie een van die juniors kon dié glibberige vis gevang kry nie.
Met die intrapslag het alles nie seepglad verloop nie maar die organiseerders het dit vinnig reggestel.
Die vissermanne, vroue en kinders, sover as Vereeniging het lank voor die openingstyd al in die ry by die hek ingeval.
Op die pragtige terrein het die hengelaars gou elkeen ‘n ‘spot’ gekry om die lyne nat te maak met die hoop om die grootte vir die dag uit te trek.
Die pryse was nie te versmaai met eerste pryse vir die grootste karp ‘n halwe bees, vir ‘n baber ‘n skaap so ook vir ‘n modderbek in die mans-, vroue- en juniorafdelings.
Die doepas is in geheimhouding gou aan die hoek gehak en die mieliebol stropies het gevloei.
Die lyne het gefluit en gesing soos almal probeer het om elke keer op die selfde kol te gooi. Die viskoors het hoog geloop met party hengelaars wat soveel as 20 visse kant toe gekatrol het.
Die weer het saam gespeel en al het die wind gewaai, het die hengelaars amper eenparing saamgestem dat hulle elke oomblik geniet het en nie kan wag vir volgende jaar se kompetisie nie.
Manne, vroue en die jonges het paadjies na die stokke geloop om net seker te maak die grootte kom uit.
Sommige het self hulle visse geskep waar ander die hulp ingekry het van mede hengelaars.
Met die inweeg is stories, tot die vermaak van die ander vissermanne, uitgeruil.
Doepa en moetie geheime is ook onderlangs uitgeruil.
Nie almal was gelukkig om ‘n vis aan die hoek te kry nie, maar het gou laat hoor hulle is verseker volgende jaar terug.
“Ons is van Kriel af en dit was ‘n lekker dag vir visvang en sal verseker volgende jaar se CMR kompetisie kom ondersteun,” het Heleen de Beer gesê.
Sy het ook ‘n karp van 3,28kg gevang en het bygevoeg dit was ‘n fees om die vis uit te trek.
Me. Rida Viljoen van die CMR het elke hengelaar wat die dag kom geniet het bedank vir hulle ondersteuning.
Sy het ook al die borge bedank wat die dag moontlik gemaak het.
Mnr. Derick van Wyk, Nedbank se bestuurder en mnr. Trevor Muchocho die verkope ondersteunings bestuurder van die Hoëveld, het die hengelaars se kele nat gehou by die inweeg en het aan elke hengelaar wat ingeksryf het ‘n sakkie van Nedbank oorhandig.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!




