Reën veroorsaak slote in paaie
Nie net die boere nie, maar almal wat die paaie gebruik, ry so sit-sit so.

BETHAL – Dis genoeg dat motoriste moet uitswaai vir slaggate, maar nou moet hulle al uitswaai vir die paaie self.
Inwoners op die plotte het ’n beter kans om fiets te ry óf om te loop as om met hul motors die grondpaaie aan te durf.
Weens die baie reën oor die laaste paar weke, is daar slote in die paaie en nie net die boere nie, maar almal wat die pad gebruik sit-sit nou so.
Dis omtrent ’n gesukkel die laaste ruk en gons dit van bakkies of motorfietse koop weens die paaie wat nie instand gehou word nie.
Mnr. Jan van der Walt het gesê dit is doelloos om die munisipaliteit te vra omdat plotbewoners al vir jare self instandhouding doen, juis omdat die munisipaliteit te traag is.
“As ons gelukkig is, word die paaie twee keer ’n jaar gelyk geskraap.”
Volgens ’n ander inwoner is die munisipaliteit egter besig met die instandhouding van paaie, maar die fokus lê op die “maklike” gaatjies.
“Groter gate verg meer tyd en ons kan nie verwag dat ons munisipaliteit werkers sal inspan vir dié harde arbeid nie.
“20 werkers sal veel eerder aan ’n gat so groot soos ’n krieketbal werk as wat die werklas gedeel word.
“Dan werk hulle ook net een minuut skofte sodat almal ’n blaaskans kan kry.
“Na dié ellendige lang dag is dit vroeg terug munisipale werksgrond toe, waar hulle pootuit die skaduwees van ’n boom opsoek en ’n uiltjie knip tot 4nm wanneer dit huistoe gaan tyd is.”
Mnr. Henry Masango, hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, kon nie teen druktyd kommentaar lewer nie.