EntertainmentLifestyleLocal newsNewsReligion

Nuwe orkes wil naam maak

Hul toekomsdoelwitte is groot verhoë, baie ligte, baie mense en baie siele red.

BETHAL – FOG, ook bekend as Followers of God, is ’n nuwe Christelike orkes op Bethal.

Die orkes het spontaan onstaan toe ‘n klomp vriende en kerkgangers een aand saam musiek gemaak het en besluit het om dit verder te neem.

Die naam het toe van Ultimate Extreme gegroei na Friends of God en eindelik Followers of God.

Die groep bestaan uit mnr. Nathan Conquest (20) as bestuurder en sanger, me. Kendall Olivier (26), hoofsanger, mnre. Hennie Olivier (48) op die dromme, Adriaan Rost (14) as sanger, Pete van Staden (21) op elektriese- en bokskitaar, Niel Rossouw (40) op baskitaar, me. Macherie Smith (16) en me. Sonja van der Bank (23) (addisionele lede) as sangers.

Dié groep het een ding in gemeen en dit is om siele vir God te wen.

Mnr. Olivier is ook voltyds die stasiebevelvoerder vir die Bethal Brandweerdienste.

Hy het gesê dat almal, maak nie saak hoe besige beroep ’n mens het nie, tyd aan die Here moet bestee.

Volgens hom is al die lede van FOG bekeerde Christene.

“Met die stigting van die orkes het almal weer opnuut hul liefde vir die Here bekragtig.

“Ons bly sondige mense en in die orkes het ons vir onsself doelwitte gestel.

“Ongelukkig word mens deur die wêreld besoedel, maar daarom het jy broers en susters om jou te help om op die regte pad te bly.”

Mnr. Olivier het gesê dat ’n insiatief deur een van die lede begin is om te verhoed dat kras taal deel van hul lewens uitmaak.

“Ons het ’n vloekblik.

“Enige kras taal word streng verbied, indien jy vloek, moet jy R5 in die blik gooi.”

Toe mnr. Olivier die blik vir die Ridge Times wys, was hy nog leeg, wat daarop dui dat lede hard probeer om nie eerste oor die lyn te trap nie.

FOG oefen elke Vrydagaand en het in die drie weke sedert hulle stigting, reeds by ’n paar geleenthede onder andere by Jolly Jumpers, kerke en die nuwe tienerklub, Vat 5! opgetree.

Mense kan Christelike opgewekte en bekende sing-saam liedere verwag.

Omdat die orkes uit soveel lede bestaan, het mnr. Olivier gesê dat dit amper onmoontlik sal wees vir ’n optrede om gekanselleer te word weens een persoon wat dit nie kan maak nie.

Hul toekomsdoelwitte is groot verhoë, baie ligte, baie mense en om baie siele red.

“Ons is ’n nie-winsgewende orkes wat die Here wil dien.

“Ons is oor naweke oop vir besprekings by enige geleenthede.”

Van die liedere wat die orkes optree sluit, “Lig jou hande op na bo”, “One way”, “Daar is ’n nuwe generasie”, “Jabulani Afrika” ensomeer in.

FOG het verlede Woensdag, 11 Desember by die PPK Gateway Ministries Kerk opgetree.

Hulle is tans in die beginstadium van ’n bemarkingveldtog en gaan binnekort ook op Facebook te sien wees.

Die orkes se leuse word omvat deur Mark 16:15-20: En Hy het vir hulle gesê gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.

“Hy wat glo en hom laat doop sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

“En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek.

“Slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê en hulle sal gesond word.

“Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.

“Maar hulle het uitgegaan en oral gespreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.

“Amen.”

Om FOG vir ’n geleentheid te bespreek of mense wat kan klawerbord speel en wil oudisie, skakel mnr. Conquest by 072 342 9856.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button