Trichardt-gemeente kry nuwe dominee
Coen sien uit na nuwe uitdaging en nuwe gemeente op Trichardt.

TRICHARDT – Ds. Coen Sutton is op Sondag, 19 Januarie as die nuwe leraar van die N.G. Kerk Trichardt bevestig.
Ds. en me. Antonette Sutton was vanaf Mei 2006 by die N.G. Kerk Spioenkop in die suide van Johannesburg en het verlede week na Trichardt verhuis.
Ds. Sutton het na matriek by die polisie aangesluit en na vyf jaar die innerlike oortuiging gekry dat die Here hom geroep het vir die bediening.
Hy het voltyds vir ’n graad in teologie aan Tukkies begin studeer en is in November 1985 tot die bediening toegelaat.
Ds. Sutton het agt dae daarna ’n beroep na sy eerste gemeente in die suide van Namibië ontvang en aanvaar.
Daar het hy ’n boeregemeenskap vir 20 jaar bedien en het dit as ’n “fantastiese tyd” in sy lewe beskryf.
Die egpaar is opgewonde oor die nuwe pad wat vir hulle by die N.G. Kerk Trichardt voorlê.
“Die Here het nou vir my ’n nuwe geleentheid en uitdaging gegee en ek is dankbaar vir die deur wat Hy vir ons oopgemaak het,” het ds. Sutton gesê.
Sy begeerte is dat lidmate aan die Here, aan mekaar as medegelowiges, aan die Woord van God en hul roeping en dienswerk in die gemeente en samelewing verbind sal wees.
Hy wil graag met ander gemeentes in die omgewing hande neem en saamwerk.
In sy vrye tyd speel hy graag gholf en die egpaar is lief vir stap en oefen graag saam.
Me. Sutton is lief vir tuinmaak, naaldwerk en die natuur.
Sy is ’n gekwalifiseerde suster en het voorheen met bejaardes in ’n ouetehuis gewerk.
Ds. Sutton se Isuzu-“kerkbakkie” wat hy vanjaar vir 25 jaar ry, het ook saamgekom.
“Trichardt sal nou die derde en laaste gemeente wees wat ek met dié bakkie sal bedien,”het hy gesê.
Die egpaar het drie volwasse kinders.