Local newsNewsReligion

Bekendes tree by gospelfees op

Mense geniet gospelfees op Charl Cilliers.

CHARL CILLIERS – Bekende sangers en groepe wat A-men, Juanita du Plessis, Joe Niemand en Dewald Gouws insluit, het verlede naweek by die N.G. Kerk Charl Cilliers-gemeente opgetree.

Dié kerk het verlede jaar ook die “Ons Koning Kom”-fees aangebied en beplan om dit ’n jaarlikse instelling te maak.

Volgens me. Hybre Vermaas, een van die organiseerders, is die doel van dié fees om siele vir God se Koninkryk te wen.

“Hier het beslis geestelike groei na verlede jaar se fees in ons gemeente plaasgevind,” het sy gesê.

“Mense het opnuut hul harte vir die Here gegee en in ons kerk word ons Skepper met passie gedien.”

Die fees het met Juanita du Plessis by die Kruik-gemeente afgeskop en is gevolg deur die gospelgroep A-men wat Vrydagaand op Charl Cilliers opgetree het.

Een van die lede van die groep A-men, Renier Bester, het getuig hoe hy in ’n Christelike huis grootgeword het, maar die pad byster geraak het toe hy in London gaan woon het en daar deel van ’n rockgroep geword het wat hom aan dwelms voorgestel het.

“Dwelms het 11 jaar van my lewe gesteel en ek het by my eie ouers gesteel,” het hy vertel.

Sy destydse vriendin, wat nou sy vrou is, het hom uit ’n kroeg gaan haal en vir hom gebid en hy het weer God opnuut ontdek en sy lewe verander.

“Die Here het my net daar waar sy vir my gebid het, vrygemaak van dwelms.”

Hy is sedert verlede jaar voltyds in die bediening en reis die land vol en tree saam met sy mede-lede van die groep A-men op.

Joe Niemand het feesgangers Saterdagaand met aanbidding gelei en Dewald Gouws het die fees Sondag afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button