
Duisende atlete wat op 1 Junie in Pietermaritzburg vir die jaarlikse Comrades Marathon wegspring, is deel van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika wat die Hardloop vir Bybels-projek aanbied.
Die Bybelgenootskap het onlangs besluit om hul projek opnuut uit te brei omdat Comrades-atlete en hul ondersteuners die projek jaarlik geesdriftig aanpak.
Dit sal van nou af ’n projek wees wat die heeljaar gaan hardloop.
Volgens me. Marina Stebbing sal atlete en hul ondersteuners self kan beslut watter wedloop of pretloop hulle wil gebruik as deel van die Bybelgenootskap se Hardloop vir Bybels-projek 2014.
“Comrades-atlete hardloop vanjaar vir die 24ste keer vir Bybels,” het me. Stebbing gesê.
Atlete word per kilometer geborg en elke R40 wat ’n atleet insamel, help die Bybelgenootskap om ’n bekostigbare Bybel beskikbaar te stel.
Die Bybelgenootskap gebruik die geld wat ingesamel word om in spesifieke Bybelbehoeftes te voorsien en maak dit dus vir duisende mense moontlik om ’n Bybel te kry.
Dié organisasie voorsien reeds vir 194 jaar in Suid-Afrika se Bybelbehoeftes en hul werk sluit die vertaling en produksie van die Bybel asook die verspreiding daarvan in.
Hulle beywer hulself vanjaar om spesifiek gratis Bybels ter waaarde van R800 000 vir gevangenes in te samel, om Bybels ter waarde van R700 00 aan die armstes van armes te voorsien, om deur middel van Bybelgebaseerde geletterdheidsmateriaal basiese geletterdheid, asook Bybelgeletterdheid, onder alle ouderdomsgroepe te bevorder, om gratis Bybels ter waarde van R1 miljoen aan gr. 7-leerlinge in skole in die armste dele van Suid-Afrika beskikbaar te stel, om ’n Bybelvertaling in hedendaagse Zoeloe beskikbaar te stel, om ’n Bybel in doofgerigte Engels in Suid-Afrika en in Afrika vir Dowes wat die Bybel in Engels gebruik, beskikbaar te stel, om ’n goed verstaanbare, konteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, Bybelstudie en persoonlike gebruik, beskikbaar te stel, om Bybelvertalings van hoë gehalte in Suider Afrika te verseker, om die Bybelgenootskappe in Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland te help met hulle taak om Bybels te voorsien en om miljoene Christene in China, veral diegene op die platteland, te help om ’n bekostigbare Bybel te kan koop en ook om gratis Bybels te verskaf aan diegene wat dit glad nie kan beskostig nie.
“Sonder die wonderlike ondersteuning van die Bybelgenootskap se donateurs is dit nie moontlik om ons taak om bekostigbare Bybels beskikbaar te stel, uit te voer nie.”
Atlete wat aan die Hardloop vir Bybels-projek wil deelneem, ongeag watter wedloop, kan die Bybelgenootskap se webwerf besoek by www.bybelgenootskap.co.za of skakel hulle by 011 970 4010.