Veediefstal plaas Chrissie-polisie in spervuur
“Boere was nog altyd bereid om hul samewerking te gee, maar ons weier om met korrupte lede te saam te werk,” het die memorandum gelui.
’n Onderneming is deur die provinsiale hoof van misdaadvoorkoming, brig. Fana Mashiane, gegee dat hy ’n ondersoek sal loods na die bestuur en bedrywighede van die polisiekantoor op Chrissiesmeer.
Dit kom ná ’n vergadering verlede Woensdag op Ermelo van sowat 50 boere van die Breyten- en Chrissiesmeeromgewing met ’n polisie-afvaardiging.
Die vergadering was op versoek van die boere ná ’n vlaag veediefstal wat veral skaapboere sedert Junie verlede jaar teister.
Die boere meen die polisie op Chrissie is traag om te help as sake aangemeld word en eis daadwerklike optrede teen die stasiebevelvoerder, kapt. A.F. Mlangeni, en sy manskappe.
Tussen 16 Desember verlede jaar en 27 Februarie vanjaar het vyf boere ’n gemiddeld van 46 diere elk verloor.
By een boer is daar in dié twee maande 119 skape gesteel, terwyl ’n ander 248 skape sedert Junie verlede jaar verloor het. ’n Lys met die syfers asook name van boere wat verliese gely het, is aan die brigadier oorhandig.
“Dié syfers toon dat ons het nie met potslagters te doen het nie, maar met georganiseerde misdaad of sindikate. Daarom vra ons hulp en samewerking van die polisie,” het ’n woordvoerder vir die boere, me. Cecelia Beukes, gesê.
Dié ondersteuning kom volgens hulle nie van die polisie op Chrissiesmeer nie.
Een van die boere het daarop gewys dat ’n berig in die Hoëvelder van 28 Februarie gemeld het dat Chrissiesmeerpolisie ’n man in hegtenis geneem het omdat 1.9kg dagga met ’n straatwaarde van R1 000 in sy besit gevind is.
“My vraag is, moet die aandag op die R1 000-misdaad gevestig word of op die R1-miljoen-misdaad?” het ’n boer gevra.
Talle aantygings is teen die polisie gemaak.
Daar is aangevoer dat net vier polisielede van die veediefstaleenheid in die gebied ontplooi is wat met twee onbetroubare voertuie die groot gebied tussen Ermelo, Chrissiesmeer, Breyten, Carolina en Lochiel bedien.
Verdagte slaghuise, abattoirs en plase word na bewering weens ’n tekort aan mannekrag nie gereeld besoek nie en voertuie wat lewende hawe vervoer, het dikwels vervalste nommerplate wat aan sekere polisielede en bekend is.
Die boere is ook ontevrede omdat daar, nadat sake aangemeld is, geen terugvoering van die polisie is nie; die dokumente om veediefstal aan te meld nie beskikbaar is nie; klaers aangesê word om vyf dae te wag om te sien of die diere na hul plase sal terugkeer; en sake vir net een of twee vermiste diere nie geopen word nie.
Indien die polisie wel by ’n plaas uitkom om ’n saak te ondersoek, is dit soms eers twee tot drie dae later wanneer alle spore en getuienis al uitgevee is.
Aantygings is ook gemaak dat sekere polisielede self by veediefstal betrokke is.
Nog ’n klagte was dat diere, waarvan sommiges aan polisielede behoort, deur die strate van Chrissiesmeer dwaal en as inwoners vra dat die diere geskut word, word hulle sleggesê.
Boere aan die dorpsgrense word gedreig as hulle voorbrande langs die pad maak. Daar word gesê hulle brand die gras wat die polisie se diere moet vreet.
Daar is ook gekla dat polisielede nie naamplaatjies dra nie en van hulle weier om hulle name op aanvraag te verskaf. Polisielede dra selde hul uniforms en indien wel, word plakkies by uniforms gedra.
Daar is ook beweer dat ’n polisielid se broer met honde op plase jag en dat polisievoertuie as taxi’s gebruik word en drank na sjebiens vervoer.
Die boere voer ook aan dat plase nie deur die polisie besoek word nie, behalwe ’n week voor Kersfees en dan word bydraes vir ’n Kerspartytie gevra. ’n Brief in diê verband is beskikbaar.
“Oor die algemeen beskou, meen ons die polisiestasie op Chrissiesmeer is van geen nut vir die publiek, omdat daar ook ’n vermoede bestaan dat sekere polisielede met veediefstalsindikate saamwerk. Nuwe personeel en ’n verandering in die houding van polisielede teenoor die publiek sal sekerlik help om ’n sektor-polisiëringsforum op versoek van die boere op die been te bring.
“Boere was nog altyd bereid om hul samewerking te gee, maar ons weier om met korrupte lede te saam te werk,” het die memorandum gelui.
Brig. Mashiane het kapt. Mlangeni tydens die vergadering geroskam en onderneem om benewens ’n interne ondersoek, polisielede van Amersfoort met tussenposes op Chrissiesmeer te ontplooi ten einde die situasie te monitor.