Vroue kniel saam
Vroue regoor die wêreld het onlangs byeengekom om saam te bid.
Vroue wêreldwyd het verlede Donderdag saamgetrek om vanjaar spesifiek vir Egipte te bid.
Verskillende kerkgenootskappe het almal byeengekom, met een doel voor oë, om saam te bid.
Die byeenkoms op Standerton is by die Volle Evangelie Kruisgenerasie aangebied.
Die vroue het elkeen ‘n seep, handeroom of lekkerruikgoed gegee om vir die vroue by Standerton korrektiewe Dienste te neem.
Wêreldbiddag vir Vroue het in 1887 begin toe vroue van die Presbiteriaanse Kerk in die Verenigde State van Amerika aangegryp is deur die nood van immigrante en die nagevolge van die vrystelling van slawe in hulle land.
Dit het as ‘n nasionale biddag begin, maar het vinnig na ander lande uitgebrei.
In Suid-Afrika is die eerste Wereldbiddagbyeenkoms in Maart 1930 in die Kaap begin.
In 1946 is ‘n nasionale komitee vir Suid-Afrika in die lewe geroep.
Die lede van dié komitee word deur die beherende liggame van verskeie kerke genomineer.
Dié biddag word jaarliks op meer as 1 200 plekke in Suid-Afrika aangebied en die reëlings op plaaslike vlak is ten volle in die hande van die vroue in hulle onderskeie gemeenskappe.
Die verteenwoordigers van die komitee vergader elke vier jaar tydens ‘n internasionale konferensie wat in verskillende dele van die wêreld gehou word.
Hulle bespreek dan die onderskeie bidvergaderings, kies onderwerpe vir programme, kies ‘n uitvoerende komitee, stel ‘n begroting op en maak planne om die beweging te bevorder.
Volgens die South African Christian Information and Business Centre word die byeenkoms die beste in Suid-Afrika bygewoon..
Die skriflesing wat die vroue bewapen is Psalm 95:6, “Kom, laat ons aanbid en neerbuk, laat ons kniel voor die Here wat ons gemaak het.”



