Inwoners trek petisie op
Mense so keelvol vir die toestand vir paaie, meeste teken petisie, selfs mense wat net deur die dorp ry.
‘n Inwoner, me. Hester Grint, het onlangs ‘n petisie oor die toestand van ons paaie van stapel gestuur.
Daar moes 2 000 handtekeninge bymekaar gemaak word en dit was in ‘n kort rukkie bewerkstellig.
Deur haar toedoen is soveel moontlik handtekeninge tydens die waterkrisis ook gekry.
Die petisie is aan die hoofsweep van die ANC oorhandig, wat televisiedekking geniet het.
Die Demokratiese Alliansie (DA) in Standerton ondersteun die petisie oor die paaie.
Volgens haar gaan dit oor die welsyn van die Standerton-gemeenskap.
Soos met die water was dit vir gesondheid en vir die paaie is dit vir mense se lewens.
Inwoners kla dat hulle voertuie beskadig word en selfs vragmotorbestuurders kom tot ‘n stilstand omdat hulle bang is vir skade wat aangerig kan word.
“Hoe lank moet ons nog so aangaan voor iets gedoen gaan word,” het ‘n inwoner gevra.
‘n Vrou het gesê dat daar meer as R30 000 se skade aan haar voertuig is weens die slaggate.
Die probleem kom veral op die Standerton-Bethal pad voor met verkeer wat ‘n motoris se vernuf beproef.
Belasting word betaal, voertuiglisensies uitgeneem en hernu en inwoners vra hoe die geld bestee word.
Die pad na Meyerville is ‘n hindernisbaan, met die motoriste wat plek-plek so stadig moet ry om of die gate te vermy of om stadig daar deur te ry.
Privaatmaatskappye maak die paaie reg.
Dit help nie op die lange duur nie, maar vir ‘n paar motoriste beteken dit nie ‘n kuier by ‘n bande-onderneming nie
Die komende skoolvakansie is ‘n kopseer vir die inwoners van Meyerville omdat Standerton ‘n bekende roete vir vakansiegangers is om deur te ry.
Normaalweg, al is die paaie in ‘n goeie toestand, is dit een van die besigste tye wat verkeer deur Standerton betref.
Inwoners het opgemerk dat hulle skaam kry vir die toestand waarin die dorp is. Tydelike oplossings gaan nie op dié stadium help nie en die paaie gaan nie voor dié besige tyd reggemaak wees nie.



