Al vier dogters is musikaal
Vier dogters maak egpaar gelukkig en gesin voltallig.
SECUNDA – Mnr. Christo en me. Jacqueline Delport reken die Here het hulle met vier talentvolle dogters geseën.
Dié egpaar se dogters, Bernice (13), Melissa (14), Belinda (16) en Sunelle (17), is tans leerlinge aan Hoërskool Oosterland.
“My man het altyd gespot en gesê hy wil ses kinders hê, maar na die vierde dogter het ons besluit dat ons gesin nou voltallig is,” het me. Delport gesê.
“Dit was soms moeilik toe hulle klein was en hulle het my baie besig gehou, ek het soms gewonder of ons hulle almal gaan grootkry.”
Volgens me. Delport het elkeen van haar dogters ’n unieke persoonlikheid hoewel hulle ook verskeie gedeelde belangstellings het, soos musiek.
Die hele gesin hou van musiek en ’n mens hoor altyd iemand sing in dié huis.
“My man sing altyd as hy van die werk afkom en een van die dogters sing altyd,” het me. Delport gesê.
“Ons huis is nooit stil nie,” het Bernice gesê.
Mnr. Delport speel ook graag klavier en kitaar en me. Delport kan ook klavier speel, maar bestee eerder haar tyd in die kombuis.
Al vier dogters neem klavierlesse, is in Hoërskool Oosterland se orkes, is in die koor en neem aan debatkompetisies deel.
Hulle is ook onder die top 10 akademiese presteerders in hul onderskeie grade.
Die vier speel verskillende instrumente soos die dwarsfluit, trompet, saxofoon, piccolo (klein dwarsfluit) en die bariton.
Sunelle neem fluitlesse, terwyl Belinda en Melissa akrobatiese danse doen.
Bernice speel graag hokkie en help haar ma in die kombuis.
Al vier dogters het in 2011 saam met die musiekgroep Anders ’n liedjie, Ons Sing, opgeneem.
Volgens me. Delport kon sy van kleins af al die uiteenlopendheid in die vier dogters se persoonlikhede opmerk.
“Sunelle is lief vir stories en lees graag, sy is versigtig en kyk die kat eers goed uit die boom voordat sy nuwe vriende maak.
“Belinda is meer waaghalsig en toets die grense gereeld, sy skroom nie om te waag of haar mening te gee nie.
“Melissa grens aan perfeksionisties en is baie deeglik in alles wat sy doen, sy hou nie daarvan om aangejaag te word nie en het ’n goeie humorsin.
“Bernice is haastig van geaardheid, maar fluks en vriendelik.”
Die vier sussies is mekaar se vriendinne en die gesin neem selde maatjies vir die kinders op vakansie.
“Toe hulle kleiner was, het mense gedink hulle is ’n vierling, ek het naderhand gesê hulle is ’n vierling, want dit was te moeilik om te verduidelik,” het me. Delport gesê.
Me. Delport het met al vier kinders normaal gekraam.
Die jongste een, Bernice, het 4kg geweeg en die oudste een, Sunelle, was die ligste onder die vier en het 2.9kg by geboorte geweeg.
Die egpaar geniet hul vier dogters terdeë en maak hulle volgens die Here se weë groot.
“Psalm 127:3-5 het in ons lewens waar geword.”
Die gesin woon al die afgelope 14 jaar op Secunda.



