Skuts ding mee
Altesaam 132 skuts het aan dié kompetisie deelgeneem en 900 teikens is vir die dag geskiet.
BETHAL – Die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging op Bethal het Saterdag, 12 April hul jaarlikse Pro-Amm-groeperingsskietdag in samewerking met PMP van Pretoria aangebied.
Volgens een van die organiseerders, mnr. Willie Ooshuizen, het die weer goed saam gespeel en dit was duidelik dat daar goeie groeperings vir die dag geskiet kon word.
“Daar was ’n baie goeie opkoms en skuts van al die omliggende dorpe en sover as Pretoria het opgedaag om hul vernuf met hul roere te kom wys,” het mnr. Oosthuizen gesê.
“Soos wat dit die afgelope drie jaar was, was daar weer eens ’n jaggeweer op die spel.”
Altesaam 132 skuts het aan dié kompetisie deelgeneem en 900 teikens is vir die dag geskiet.
33 skuts het groeperings van 18mm en kleiner raakgeskiet en dié skuts gaan in Oktober aan PMP se nasionale skietkampioenskappe in Pretoria deelneem.
“Soos gewoonlik het die skuts van Bethal glad nie terug gestaan vir die res van die deelnemers nie en het skoonskip gemaak.
“Die geweer wat op die spel was, is vir die derde agtereenvolgende jaar deur Sarel van Rensburg, ’n skut van Bethal, gewen met ’n wengroepering van 5.44mm.”
Zelda van Rensburg, ook van Bethal, was die beste vroue skut en het ’n groepering van 9.62mm geskiet.
Heinro Helberg, ook van Bethal, was die beste junior skut en het ’n groeperng van 13.46mm geskiet.



