Local newsNewsSchools

ATKV daag gemeenskap uit

Skole kan by projekte betrokke raak en iemand help.

SECUNDA -Die ATKV Kosmosrand-tak pak vanjaar verskeie projekte aan waarvan een die Winterwarmprojek is.

Met dié projek wil die ATKV behoeftige gesinne in die winter help.

“Ons tak se fokus is om ’n verskil in ons gemeenskap te maak en ons wil skole en ondernemings nooi om met ons hande te neem en deel van ons projekte te word,” het me. Tracey van Wyk, voorsitter van die ATKV Kosmosrand-tak, gesê.

Die ATKV wil hoofsaaklik soppakkies, komberse, serpe en warm klere insamel.

“Ons daag skole uit om die kinders aan te moedig om behoeftige mense te help.

“Die ATKV gaan ’n kompetisie hou waartydens die leerlinge van die klas wat die meeste soppakkies insamel, elkeen ’n koffiebeker gaan kry.

“Omdat ons ’n kultuurorganisasie is, gaan ons die kinders vanjaar ook aanmoedig om meer Afrikaans te lees.

“Dié projek is in die vorm van ’n inkleur- en skryfkompetisie en skole en leerlinge kan Afrikaanse boeke wen.”

Die tak het verlede jaar die Pienk Strikprojek aangebied waartydens hulle bewusmaking van kanker gedoen het en mense wat kanker het en hul gesinne bygestaan het.

“Ons wil vir die skole baie dankie sê dat hulle ons met dié projek ondersteun het.

“Die uitslag was dat daar ’n groter bewusmaking van kanker op ons dorp ontstaan het en dat ons reeds verskeie mense wat kanker het, kon bystaan.

“Ons het kospakkies aan mense wat finansieel sukkel om kop bo water te hou, voorsien en het boeke aan skole en kleuterskole geskenk om hulle te help om kinders wat sukkel om die verlies van ’n geliefde te verwerk, by te staan.”

Skole het kans tot 27 Junie om soppakkies, komberse, serpe en warm klere in te samel.

Vir meer inligting of om by die projekte betrokke te raak, skakel me. Van Wyk by 074 103 6381.

Related Articles

 
Back to top button