Jané dring deur na halfeindronde
Jané is semi-finalis in Angelique Gerber se Apprentesseskompetisie.
SECUNDA – Jané van Staden (17), ’n leerling van Hoërskool Oosterland, is as een van die semi-finaliste in die aktrise, Angelique Gerber, se Apprentesseskompetisie gekies.
Beoordelaars gaan binnekort kyk hoe die semi-finaliste hulself voorstel en hulle moes ook Facebook-bladsye oopmaak waarna beoordelaars kan kyk.
Deelnemers moet probeer om meer as 1 000 ‘likes’ op hul Facebook-bladsye te kry en dié deelnemers sal dan ’n ontwerpersrok wen.
Jané het al meer as ’n honderd ‘likes’ op haar Facebook-bladsy.
Ondersteun haar en gaan ‘like’ haar bladsy op Facebook onder Jané van Staden Apprentesses Semi-Finalist.
“’n Mens moet jouself bemark met dié kompetisie en hulle soek ’n meisie wat ’n goeie leefstyl lei en ’n goeie persoonlikheid het,” het Jané gesê.
Sy het in Desember op Facebook op die kompetisie afgekom en besluit om in te skryf.
Beoordelaars gaan die top 100 finaliste uit al die semi-finaliste kies.
In haar vrye tyd geniet sy dit om te lees, om op die internet rond te swerf of om netbal te speel.
Sy stel veral in geskiedenis en modelwerk belang.
Jané is tans op soek na ’n borg vir die welsynsprogram wat deel van die kompetisie is.
Elke semi-finalis moet in Augustus met die welsynsprojek begin.
Jané gaan deel wees van Assignment Vuurwarm waar haar bydrae belê gaan word.
Van die beoordelaars wat na die semi-finaliste se Facebook-bladsye kyk, sluit in Donalee Roberts en Ivan Botha.
Vir meer inligting, skakel Jané se ma, me. Hester van Staden by 017 634 5924.



