Kan munisipaliteit spoedwalle aanbring?
Plekke vir spoedwalle sal in ag geneem word - munisipaliteit
SECUNDA – Personeel van skole en kleuterkole in Nelson Mandelastraat is bekommerd oor die kinders se veiligheid, veral in die oggende wanneer dié pad baie besig is en kinders afgelai word.
Volgens die ondewysers, jaag die motoriste ver bo die spoedgrens en daar is onlangs reeds ’n kind raakgery.
Van die skole het in die systraat reg voor hul skool reeds spoedwalle en tekens aangebring, maar hulle wil ook graag spoedwalle en verkeerslui in die hoofpad waar die kinders met ’n bus afgelaai word, hê.
Dié onderwysers het al met die munipaliteit in verbinding getree en verduidelik wat hulle wil hê, maar sonder sukses.
“Al die ander skole op Secunda het verkeerslui wat die kinders in die oggende help en spoedwalle, hoekom kan ons nie ook kry nie?” het een van die onderwysers gevra.
Daar is wel ’n waarskuwingsteken dat kinders die pad oorsteek in Nelson Mandelastraat, maar dié is nie duidelik sigbaar nie omdat takke dit toegegroei het.
Die hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, mnr. Henry Masango, het gesê: “Ons is tans in die proses om spoedwalle op te rig en die geïdentifiseerde plekke sal in ag geneem word.
“Motoriste moet hul gedrag verander en ander in ag neem wanneer hulle bestuur in plaas daarvan om altyd deur verkeerslui beheer te wil word.
“Daar sal nooit enige situasie wees waar verkeersmanne in elke straat van ons gemeenskap beskikbaar sal wees nie.
“Dit is daarom nodig dat motoriste hulself reguleer deur die padtekens waar te neem.”



