Local newsNewsSchools

Chantelle sal gemis word

Charmaine bedank dokters en hospitaal.

HOëVELD – Chantelle Hattingh (15), ’n leerling van Hoërskool Kriel, is Maandag, 4 Augustus aan kanker dood.

Sy is vyf weke voor haar dood met aggressiewe bloedkanker gediagnoseer en het behandeling in die Steve Biko Hospitaal in Pretoria ontvang.

“Sy was baie bleek en ons het haar na ’n dokter geneem wat gesê het hy vermoed sy het bloedkanker,” het haar ma, me. Charmaine Swart, gesê.

Sy is na die Witbank Hospitaal verwys sodat hulle haar beenmurg kon toets.

Sy is opgeneem vir ’n paar dae omdat dokters by dié hospitaal gereken het sy kort bloed.

Hulle het haar later ontslaan en gesê sy moes op 24 Julie weer vir ’n opvolgondersoek teruggaan.

Sy het egter die naweek van 13 Julie só sleg gevoel en haar neus het begin bloei, dat haar ma haar na nog ’n dokter geneem het wat ook bevestig het sy het bloedkanker.

Sy is toe na die Steve Biko Hospitaal oorgeplaas.

Dokters en maatskaplike werkers by dié hospitaal het naderhand vir me. Swart gesê sy moet huis toe gaan om bietjie te rus.

Sy en Chantelle het egter daagliks telefonies kontak gehad en Chantelle het met chemobehandeling begin.

Sy is ’n week daarna dood.

Me. Swart het, begin om strikkies te maak vir brandstofgeld en onkoste om weer vir Chantelle te gaan kuier toe sy nog siek was.

Sy was op pad hospitaal toe toe sy die nuus gekry het dat Chantelle dood is.

Sy het Chantelle as ’n vrolike kind beskryf wat altyd geglimlag het.

“Sy was spontaan, het ’n sterk persoonlikheid gehad en was intelligent en liefdevol.

Chantelle se begrafnis vind Vrydag, 15 Augustus om 1nm in die A.G.S. Kerk Kriel-gemeente plaas.

Me. Swart het die personeel van Steve Biko Hospitaal, dr. Leon Pelser, dr. Karl-Heinz Schmidt en almal wat donasies gegee het en die gesin emosioneel ondersteun het, bedank.

Chantelle het die volgende stuk geskryf op haar siekbed:

“Hi, ek is Chantelle.

“Ek lê in die hospitaal want ek is baie siek ek het bloedkanker.

“Dit is regtig nie baie lekker nie.

“Jy het pyn en jy kan nie veel doen nie.

“Jy moet rustig wees en lekkernye soos lekkers mag ons nie eet nie.

“Ek moet dinge soos gesonde kos en vrugte en joghurt eet en ons mag nie koeldrank drink nie net 100 persent vrugtesap en water.

“Ek mag ook melkskommel en tee drink wat my imuunstelsel opbou.

“Nog ’n ding is, ons bloei baie, veral ons monde en neuse.

“Ons vat dan lank om te herstel, maar sodra ons met chemobehandeling begin, val ons hare uit, maar dit groei weer terug, so jy hoef nie te veel te ’worry’ oor dit nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button