Piet eindig derde
Personeel van Hoërskool Evander High School is trots op mnr. Piet Jacobs.
EVANDER – Mnr. Piet Jacobs, ’n onderwyser by Hoërskool Evander High School, het in die Julie-skoolvakansie aan die Big 5 Challenge by die Knysna Oesterfees deelgeneem en derde geëindig.
Altesaam 7 000 mense het aan dié kompetisie, wat fiksheid en stamina vereis, deelgeneem.
Deelnemers het ’n keuse gehad om aan sekere wedlope, fietswedrenne of swemitems deel te neem en sommiges was verpligtend.
By die voltooing van elke item, is deelnemers met ’n punt beloon wat bereken is in verhouding met die wentyd vir daardie betrokke wedloop, wedren of item.
Die deelnemer met die meeste punte is aan die einde van die kompetisie as die wenner aangewys.
Mnr. Jacobs het aan ’n 80km-bergfietswedren wat verpligtend was deelgeneem, asook aan ’n 100km-padfietswedren, ’n 15km-featherbedbaanwedloop (vierde geëindig), Xterra (verpligte item wat 3km-landloop, 23km-fietsry en 7km-hardloop ingesluit het en mnr. Jacobs het negende geëindig) en ’n keuse tussen die 21km- of 42km-wedloop waarin hy derde geëindig het.



