Local newsNews

Henry motiveer ander

Henry geniet natuur en help sy vrou met die bak van koeke.

EVANDER – Hoewel mnr. Henry Beukes (56) blind is, keer dit hom nie om voluit te leef nie.

Hy het sy dogter, me. Ursula Venter, laas gesien toe sy 16 was en sy is nou 29.

’n Ongeluk by ’n myn het mnr. Beukes blind in albei sy oë gelaat.

Hy kon ’n ruk na die ongeluk nog ’n bietjie sien, maar is nou heeltemal blind.

’n Pyp het gebars en hoëdrukwater het in sy gesig gespuit en sy oë beskadig.

Hy het al bykans 20 operasies ondergaan om sy sig te probeer herstel, maar tevergeefs.

“Dokters sê ek moet vasbyt, want hulle sal dalk binnekort met nuwe tegnologie met sukses ’n operasie op my oë kan doen,” het mnr. Beukes gesê.

Dié nuwe tegnologie is bioniese oë en volgens mnr. Beukes is dit al in Engeland en Australië gedoen.

Sy vrou, me. Rianna Beukes, staan hom by en hy help haar as sy koeke bak en versier.

Hy maak ook graag skinkborde.

Hy help ook soms sy vrou om vrugte en groente in te lê of hy spuit die tuin nat.

“Dit was moeilik in die begin en ek het oor die randstene geval, maar dit gaan nou beter.”

Hy oefen vir twee ure daagliks op ’n trapmeule en met ligte gewigte.

Baie mense het al vir mnr. Beukes gesê hy is ’n motivering vir hulle en hulle gaan kuier by hom as hulle “af voel”.

Hy geniet dit om jaarliks saam met sy swaer en vriende te gaan jag.

“Hulle jag en ek bly by die kamp en maak hul messe skerp.”

Hy luister ook na boeke en die Bybel op CDs of kassette in sy vrye tyd.

Mnr. Beukes is in Johannesburg gebore en het skool op Evander voltooi.

Hy is na skool weermag toe en het op die grens geveg waar hy twee keer in die been geskiet is.

“Dit was goeie tye en ook moeilike tye.

“Jy was bly as jy net oorleef het.”

Hy het daarna vir 24 jaar by myne gewerk en ook vir die destydse Unicor Rugbyklub gespeel.

Hy het gesê mense wat blind of doof is, kan nog dink en mense moet hulle aanvaar en kan nog met hom gesels al is hy blind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button