Local newsNews

Verwaarloosde diere vind ’n tuiste

Boere kan drukgang gebruik.

TRICHARDT – Mnr. Pieter en me. Lizelle Schoeman het onlangs Mooipan Perdeplaas begin en het tans sewe perde van hul eie op die plaas.

Hulle huur die stuk grond by mnre. Andries Joubert en Cornelius Solomon.

Die egpaar se liefde vir diere kom al ’n lang pad en dit is meestal op mishandelde diere wat dié egpaar hul harte verloor.

Só het hulle vir Kelly, die Duitse herdershond wat erg mishandel was, ’n paar jaar gelede ingeneem.

Kelly is nou vol selfvertroue en help me. Schoeman selfs met berading van kinders by skole.

Die perde was volgende en me. Schoeman het ’n vulletjie, naamlik Vlam, as geskenk gekry by ’n boer van Fochville.

“Hulle het ’n goeie huis vir haar gesoek en ek het gesê ek sal haar koop, toe kry ek haar as ’n geskenk,” het me. Schoeman gesê.

Lebombo, een van die ander perde op die plaas, het deel van die Schoeman-familie geword toe mnr. Schoeman ’n foto van hom op die internet gesien en besluit het om hom te koop.

Die egpaar het nie geweet dat dié perd ’n volbloed Carel Hancke Suid-Afrikaanse boerperd was nie.

“Ons het dit eers agtergekom nadat ons hom gekoop het en die mense van wie ons hom gekoop het, gesê het dat hulle sy paspoort sal bring,” het me. Schoeman gesê.

Die aantal perde het groter geword soos die Schoemans nog perde gekoop het.

Nóg ’n spesiale perd, Xera, is ’n Arabier-boerperdkruising.

Die egpaar het ook die enigste drukgang van sy soort in die omgewing.

Dié drukgang is só ontwerp dat die perd nie die veearts of persoon wat aan hom werk, kan skop nie en daar is syhekke sodat die perd ook maklik vrygelaat kan word as hy homself dalk in die drukgang sou beseer.

“Die ander boere is welkom om die drukgang te gebruik,” het me. Schoeman gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button