SANBS moet 3 000 eenhede bloed insamel
Dié jaar se veldtog fokus op die SANBS slagspreuk, “Jou Bloed Red Lewens”.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) het ’n merkwaardige toename in bloedvoorraad tydens die feeseisoen ondervind.
“Skenkers het hulle ondersteuning gewys tydens dié tradisionele moeilike tyd vir die SANBS. “Ons het deur die tyd gekom sonder om in ’n tekort in te gaan; vir dit wil ons groot dankie sê aan almal wat so onselfsugtig geskenk het,” het me. Vanessa Raju, kommunikasiebestuurder van SANBS, gesê.
Ten spyte van dié sukses is daar ’n groot afname in insamelings sedert die begin van Januarie.
Dit het tot gevolg dat die daaglikse bloedvoorraad tot slegs 1.6 dae gedaal het.
Dit is heelwat laer as die vyf dae se bloedvoorraad wat benodig word om in die land se aanvraag te voorsien.
Om dié veilige bloedvoorraad te bereik moet SANBS daagliks 3 000 eenhede bloed nasionaal insamel.
Nou dat 2015 onderweg is, word skenkers herinner om bloedskenking as ’n aksie vir die nuwe jaar aan te neem.
Dié jaar se veldtog fokus op die SANBS slagspreuk, “Jou Bloed Red Lewens”.
Skenkers word aangemoedig om bloed op ’n gereelde basis te skenk.
As erkenning gaan SANBS ’n spesiale sportsak aan alle skenkers, wat vier keer dié jaar bloed skenk, gee.
Die minimum vereistes om ’n skenker te wees is:
• Tussen die ouderdomme van 16 en 65 jaar oud
• Weeg minstens 50kg
• Wees in algemene goeie gesondheid
• Leef ’n veilige seksuele leefstyl.
Indien u aan die bogenoemde vereistes voldoen en wil uitvind waar u kan bloed skenk, besoek www.sanbs.org.za of skakel 0800 11 90 31.



