Watergehalte laat gevaarligte flikker
Altesaam 4 292,8 miljoen liter onbehandelde rioolvuil is daagliks in ons riviere en waterbronne gestort.
AfriForum het hul misnoeë met watergehalte te kenne gegee.
“Ons is uiters besorg oor die swak bestuur deur waterreguleerders in Suid-Afrika,” het mnr. Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake, gesê.
Dit volg nadat die langverwagte Bloudruppel- (drinkwater) en Groendruppel- (rioolafvalwater) verslag vir 2013, wat deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) geproduseer is, geëvalueer is.
“2014 was ‘n tragiese jaar waarin gemeenskappe weens besmette drinkwater gesins- en familielede verloor het.
“Dié sterftes kon voorkom gewees het indien die Blou- en Groendruppel-verslag betyds vrygestel is.”
Mnr. Kleynhans het ook gesê dat die wyse waarop water in Suid-Afrika gereguleer word vir al sy burgers ‘n bedreiging inhou.
“In 2013 is 152 munisipaliteite en 1 009 drinkwaterstelsels geëvalueer.
“‘n Skokkende 25% van die munisipaliteite met Bloudruppel-status en baie min, indien enige, gemeenskappe, is van probleme met die gehalte van drinkwater in kennis gestel.
“Privaatnywerhede word krimineel met waterbesmetting en nalatigheid verbind, maar die regering beskerm steeds sy mense en laat hulle skotvry wegkom, terwyl ander Suid-Afrikaners die gevolge van hulle nalatigheid moet dra.”
In die 2013 Bloudruppel-opsomming dui die DWS aan dat die Bloudruppel-evaluering nie ten doel het om swak of hoërisiko-drinkwaterdienste en watergehalte te kriminaliseer nie.
Dit dien eerder om die waterdienste-instellings in die land te waarsku oor die vlak van die risiko wat betrokke is by hulle waterdienste en die gehalte van die water wat gelewer word.
“Drink- en rioolwater wat nie doeltreffend behandel word nie, hou beduidende gesondheids-, omgewings- en voedselsekerheidsrisiko’s vir gemeenskappe in.
“Nalatigheid ten opsigte van beplanning, die aanstelling van personeel, begroting, bestuur en infrastruktuurinstandhouding veroorsaak geweldige besoedeling van ons waterhulpbronne,” het hy bygevoeg..
Feite oor Bloudruppel 2013
• 1 009 waterstelsels in 152 munisipaliteite is geëvalueer. Slegs 263 (25%) drinkwaterstelsels het volhoubaar aan mikrobiologiese standaarde voldoen, en slegs 767 (72%) het aan chemiese gehaltestandaarde voldoen.
• Die Bloudruppel-standaarde het aangedui dat slegs 25% van die stelsels nakoming van 95% (Bloudruppel-status) gerapporteer het.
• Gauteng en die Wes-Kaap het drinkwater die doeltreffendste bestuur.
• Die nasionale drinkgehalte-risikoverhoudings het aangedui dat 52% van die stelsels ‘n hoë kritieke risiko ingehou het weens die gebrek aan menslike vaardighede en bevoegdheid wat beskikbaar is om eenheidbehandelingsprosesse en die verspreiding van water te beheer.
• Slegs 21% van die stelsels het die vereiste getal toesighouers vir nakoming in diens gehad, en 66% van die stelsels is sonder toesighouers met geskikte kwalifikasies bedryf.
• Proseskontroleurs by 11% van die stelsels wat geëvalueer is, het aan konsepregulasie 17 en die DWS-vereistes voldoen, en 68% het ‘n 0%-nakomingsyfer gehad.
• Slegs 13% van die stelsels het aktiewe waterveiligheidsbeplanningsprosesse in plek gehad. Slegs 52% van die stelsels het nie enige waterveiligheidsbeplanningsaktiwiteite in plek gehad nie.
AfriForum en DWS se Bloudruppel-aanbevelings is:
• ‘n Bevoegde toesighouer met geskikte kwalifikasies sal die risikogradering met ‘n beduidende 10% verlaag.
• Toesighouernakoming kan verkry word deur die gefokusde opleiding van personeel of ‘n aansoek om die erkenning van voriges.
• Kundiges, professionele organisasies en waterrade kan gebruik word om op een of ander wyse te help totdat die toesighouersfunksie aan die vereistes voldoen.
• Verwerking, beplanning, uitvoering en monitering van risikoverminderingsplanne is belangrik.
• Verbintenis van die waterdienste-owerhede om bevoegde en gekwalifiseerde kundiges aan te stel om ‘n toegewyde waterveiligheidsbeplanningsproses te implementeer, bestuur en moniteer, en om risikoverminderingsplanne saam te stel, uit te voer en te moniteer.
• Aktiewe waterveiligheidsbeplanning moet gepaardgaan met deurlopende evaluering van watergehaltedata wat tydens hoërisikotoestande in die waardeketting verkry word.
• Die inligting wat ingesamel word, kan dan gebruik word om ‘n risiko-omskrewe moniteringsprogram van watergehalte saam te stel, te bestuur en by te werk.
• Deurlopende evaluering en monitering van watergehaltedata wat verkry word deur dikwels en volhoubaar monsters van drinkwater te neem.
• Vervanging van onbevoegde personeel deur bevoegde en gekwalifiseerde personeel.
• Toepassing van die wet om die owerhede in hulle persoonlike hoedanigheid vir bewese nalatigheid verantwoordelik te hou.
• Deursigtigheid met die deel van inligting oor waterbestuur en -gehalte, byvoorbeeld in die Bloudruppel-verslag.
• Vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor oor die privatisering van waterdienste en bestuur om gehalte- en bestuursnakoming te verseker.
• Herroeping van SEB- en regstellende-aksiebeleide ten opsigte van die bestuur van kritieke hulpbronne en ontwikkeling.
• Wysiging van die Waterwet om die staat krimineel verantwoordelik te hou.
• Daarstelling van ‘n onafhanklike waterreguleerder om nakoming van watergehalte en -standaarde te verseker.
Verdere ondersoek het aangedui dat riviere stroomop meer besmet was as by die afvalwaterbehandelingswerke (AWBW) weens mangate wat oorstroom en onbehandelde riool in natuurlike waterbronne stort.
Dit beteken dat die afvalwater nooit by die AWBW, wat Groendruppel-status kan hê, uitkom nie.
Altesaam 4 292,8 miljoen liter onbehandelde rioolvuil is daagliks in ons riviere en waterbronne gestort.
AfriForum het die paar munisipaliteite bedank en gelukgewens wat aan die Blou- en Groenddruppel-standaarde voldoen.
Besoek gerus ons ander webtuistes hier:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons Facebookblad en volg ons op Twitter.
Vir nuus wat na jou selfoon gestuur word:
BBM – 266F5BCC
WhatsApp – 0748872805



