Munisipaliteit bly in gebreke met betaling
"Selfs die hof sal genader word indien daar van die besluit afgewyk word."
Die Lekwa Munisipaliteit kom nie hulle afbetalingsooreenkoms met Eskom na nie.
Die Standerton Advertiser het op 14 November berig dat sowat R202-miljoen aan Eskom verskuldig is.
Volgens mnr. Rosier de Ville, hoofsweep van die DA, het die ouditkomitee voorgestel dat die inkomste wat vanaf verbruikers se elektrisiteitsrekeninge verkry word, slegs aangewend sal word om die uitstaande skuld te delg.
Die munisipaliteit het by hulle onlangs raadsvergadering die voorstel goedgekeur.
“Dit is ‘n goeie aanbeveling en ek vertrou dat die raad die beleid sal toepas,” het mnr. De Ville gesê.
Die DA het die besluit van die munisipaliteit as ‘n oorwinning beskou.
Volgens die DA veg hulle al jare dat elektrisiteitsgeld uitsluitlik gebruik moet word om Eskom te betaal. Die rekening beloop reeds meer as R207-miljoen.
“Ek is verheug oor die besluit, maar wil eerstens die inwoners vir hullle ondersteuning om die DA se pogings om die ANC tot ander insigte te oorreed, bedank,” het mnr. De Ville ook gesê.
“Die voortdurende DA ‘Betaal Eskom Direk’-petisie het duisende handtekeninge gewerf en bygedra om tot die besluit te kom.
“Dit wys dat hoewel jy in die minderheid is, jy deur volgehoue druk, wel welslae kan behaal.”
“Ek is verheug, maar die ANC sal met arendsoë dopgehou moet word dat hulle hou by die besluit en nie daarvan afwyk nie,” het mnr. Pierre Schnetler, DA-koukusleier, gesê.
“Selfs die hof sal genader word indien daar van die besluit afgewyk word.”
Mnr. Sipho Mkwanazi, woordvoerder van die munisipaliteit, het nie teen druktyd kommentaar gelewer nie.
Besoek gerus ons ander webtuistes hier:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons Facebookblad en volg ons op Twitter.
Vir nuus wat na jou selfoon gestuur word:
BBM – 266F5BCC
WhatsApp – 0748872805



