Pieter en Ronel tree af
Egpaar gaan pasiënte baie mis en is dankbaar vir hul getroue ondersteuning.
SECUNDA – Dr. Pieter Oosthuizen (67) en sy vrou Ronel groet die dorp na 33 jaar.
Die egpaar tree af en verhuis na Somerset-Wes.
“Ons het baie lekker op Secunda gebly en hier was goeie geleenthede vir ons kinders,” het dr. Oosthuizen gesê.
Hulle het drie seuns op Secunda grootgemaak en het al een kleindogter wat in Ierland woon.
Dr. Oosthuizen beplan om nou meer waarnemerswerk (locum) te doen, ook in Ierland.
“Ons beplan om meer tyd met ons kleinkind te bestee,” het me. Oosthuizen gesê.
Dr. Oosthuizen het op Krugersdorp grootgeword en het na skool sy graad in plantkunde en onderwys aan die Universiteit van Potchefstroom verwerf.
Hy en me. Oosthuizen het toe beide op Ermelo skoolgehou, maar dr. Oosthuizen het na twee jaar besluit om tog maar sy droom om medies te studeer, na te jaag en voltyds aan die Universiteiet van Pretoria studeer.
“Medies was nog altyd my eerste liefde,” het hy gesê.
Hy kon nie direk na skool medies studeer nie omdat dit makliker was om vir onderwys ’n beurs te kry as vir medies.
Na afloop van sy studies, het hy eers as huisdokter op Rustenburg gepraktiseer voordat hy na Secunda gekom het.
Me. Oosthuizen het haar loopbaan in die onderwys laat vaar om voltyds by dr. Oosthuizen se praktyk te werk.
Die egpaar sien daarna uit om die natuurskoon te geniet, te reis, fietstoere te onderneem en te kamp as hulle afgetree het.
Me. Oosthuizen wil meer tuinwerk doen en al die geskiedkundige geboue in die Kaap besoek.
“Ons is albei buitelugmense en was al op ’n paar fietstoere,” het dr. Oosthuizen gesê.
“Ons is hartseer om die pasiënte te groet, maar ons sien daarna uit om tyd te hê om al die lekker dinge te doen,” het me. Oosthuizen gesê.
Dr. Oosthuizen het sy pasiënte bedank dat hulle hom al die jare met hul gesondheid vertrou het.
“Hulle het vir my soos familie en vriende geword,” het hy gesê.
Hy was destyds betrokke by die ontwikkeling van die Teksdok-gebou en was ook vir jare op die destydse Secunda Hospitaal se direksie.
“Hier was baie goeie gleenthede vir my op Secunda.
“Ek wil ook vir my vrou dankie sê wat haar briljante loopbaan opgeoffer het om my te help.
“Sy het gehelp om my praktyk te maak wat dit vandag is.
“Ek kan nie vir haar en die Here genoeg dankie sê nie, Hy is goed vir ons,” het dr. Oostuizen gesê.
Dr. Rohith Rampersadh neem dr. Oosthuizen se praktyk oor en dr. Ooshuizen sien einde Februarie sy laaste pasiënte.
Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 29C64351
WhatsApp – 082-611-3867



