Helpende Hand wil leerlinge help
Meer as 31% van alle wiskunde-onderskeidings in 2014 is deur Afrikaanse skole opgelewer.

BETHAL – Meer as 31 persent van 2014 se wiskunde-onderskeidings deur matrikulante is deur Afrikaanse skole opgelewer.
Leerlinge in Afrikaanse skole het byna ’n derde van al die wiskunde-onderskeidings ingeoes wat deur die matriekklas van 2014 behaal is.
’n Ontleding deur Solidariteit Helpende Hand se Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) toon dat 7 198 matrikulante aan 1 767 skole in 2014 dié bielie van ’n vak met ’n onderskeiding kon slaag.
Uit hierdie getal is 2 242 onderskeidings in 243 Afrikaanse skole behaal.
“Dit beteken dat 31 persent van alle wiskunde-onderskeidings afkomstig is van slegs 13 persent van die skole waar onderskeidings in dié vak behaal is,” het dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, gesê.
“Ons ontleding toon duidelik dat Afrikaanse skole buitengewoon goed presteer in wiskunde.”
Boonop het die totale getal wiskunde-onderskeidings van 2013 na 2014 met meer as ’n duisend, vanaf 8 217 onderskeidings in 2013 na 7 198 in 2014, gedaal.
Kenners het gemeen dat aanpassings in die kurrikulum ’n bydraende faktor hiertoe was.
Dr. Brink het gemaan dat hoewel die gehalte van wiskunde-onderwys by talle Afrikaanse skole gesond is, die staat meer moet doen om te verseker dat onderwysers en leerlinge by alle skole genoegsaam toegerus is om hoër prestasies in dié uitdagende vak aan te moedig.
“Juis daarom het Solidariteit Helpende Hand drie jaar gelede die VAW op die been gebring.
Dié afdeling van Helpende Hand fokus spesifiek op die professionele ontwikkeling van Afrikaanse wiskunde-onderwysers deur kursusse en kongresse aan te bied.
Omdat onderwys ’n uiters dinamiese en uitdagende beroep is waarin die kurrikulum, aanbiedingsmetodes en tegnologie gereeld verander, is dit noodsaaklik dat geleenthede aan onderwysers gebied word om te groei.
“Hoe beter die onderwyser toegerus is, hoe meer baat die leerling in die klaskamer,” het dr. Brink gesê.
Ondersteuning aan wiskunde-onderwysers gaan vanjaar uitgebrei word met die bekendstelling van ’n nuwe wiskunde e-boek, kursusse, kongresse en ’n Afrikaanse wiskunde-app.
Vir matrikulante word ’n landwye winterskool in samewerking met Akademia, die hoëronderwysinstelling van die Solidariteit Beweging, beplan.
Volgens data wat van die departement van basiese onderwys ontvang is, is 7 198 onderskeidings in wiskunde behaal.
Dit verskil egter van die departement se eie verslag van die uitslae waarin aangetoon word dat 7 216 wiskunde-onderskeidings behaal is.
Dit kom neer op ’n verskil van 18 onderskeidings tussen die twee weergawes.
Omdat Solidariteit Helpende Hand in besit is van oorspronklike data waarin die onderskeidings per eksamenlokaal aangeteken is, is die ontleding en afleidings hierop gebaseer en is 7 198 as die ware getal onderskeidings gereken.
- Vir meer inligting, skakel me. Alisha de Lange by 082 923 1438 of me. Sanette Henning, voorsitter van die Bethal-tak, by 082 300 4835.
Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 29C64351
WhatsApp – 082-611-3867



