Beheerliggaamverkiesing maak of breek SA-onderwys
Bykans 300 000 verteenwoordigers word vanjaar tydens die driejaarlikse skoolbeheerliggaamverkiesing verkies.

SECUNDA – Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel sal waarskynlik staan of val by ouers se betrokkenheid by vanjaar se skoolbeheerliggaamverkiesing.
Bykans 300 000 verteenwoordigers word vanjaar tydens die driejaarlikse skoolbeheerliggaamverkiesing verkies.
Dit maak dit die enkele grootste demokratiese proses in Suid-Afrika, maar dit blyk egter dat die meeste provinsiale onderwysdepartemente nie die proses ernstig opneem nie deur óf nie regulasies te publiseer nie óf dit so laat te publiseer dat dit meer verwarring skep as wat dit rigting gee.
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) is elke keer betrokke by die proses en gee ná elke verkiesing terugvoering oor probleme en is deel van ’n nasionale taakspan en nasionale riglyne word gereeld uitgestuur.
“Onkunde is dus nie ’n verskoning nie. ”
Volgens dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, weet provinsies al vir 19 jaar lank dat daar elke drie jaar ’n skoolbeheerliggaamverkiesing is.
“Dit is dus eerder ’n geval van laksheid.”
Regulasies is nog net in vier provinsies gepubliseer, naamlik die Noord-Kaap, die Wes-Kaap, die Vrystaat en Mpumalanga.
In Gauteng was die provinsiale onderwysdepartement só gefokus daarop om die samewerking tussen 20 skole deel van die regulasies te maak, dat die departement van die ander 2 050 skole in die provinsie vergeet het en dit is ’n sprekende voorbeeld van politiek wat bó die belange van kinders gestel word.
In provinsies waar daar geen regulasies vir die verkiesing aangekondig is nie, geld die regulasies van die vorige verkiesing in 2012.
In die geval van die Oos-Kaap geld die nasionale riglyne wat in 2006 gegeld het.
Die Oos-Kaapse onderwysdepartement het finaal in duie gestort en die departement het nie die kapasiteit om enige funksie uit te voer nie.
Pogings deur die nasionale departement van basiese onderwys om die Oos-Kaapse departement onder administrasie te plaas, het die saak net vererger.
“As dringende optrede nie hier plaasvind nie, is ’n hele generasie kinders se toekoms vernietig.”
Deur kundige mense tot skoolbeheerliggame te verkies, belê ouers en voogde in kinders se toekoms.
Fedsas doen ’n dringende beroep op skoolgemeenskappe om erns te maak met die verkiesing.
“Gaan stem in groot getalle vir mense met kennis en vaardighede.
Die onderwysstelsel is onder geweldige druk en dié verkiesing is waarskynlik van die laaste wesenlike geleenthede vir die samelewing om die onderwysstelsel as’t ware terug te neem.
“Om blaam rond te skuif, gaan niemand baat nie.
“Die onus rus op skoolgemeenskappe,” het dr. Deacon gesê.
Fedsas het ’n verskeidenheid dokumente wat betrekking het op die verkiesing en die dokumente is op Fedsas se webtuiste by www.fedsas.org.za onder die spesiale verkiesingslogo beskikbaar.
Fedsas se webtuiste is ook die enigste webtuiste wat al die inligting op een plek gerieflik beskikbaar maak.
Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 29C64351
WhatsApp – 082-611-3867



