Helpende Hand gaan voort met Kosblikkieprojek
Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkieprojek voorsien in ’n behoefte.
Solidariteit Helpende Hand sal vanjaar meer kleuterskole as ooit vantevore in staat stel om elke dag vir hul kleuters ‘n gesonde maaltyd te voorsien.
Deur die Kosblikkieprojek het Helpende Hand verlede jaar meer as 4 000 kleuters landswyd elke dag gevoed, maar die organisasie beplan om vanjaar die projek nog meer uit te brei.
“Die behoefte aan voeding by kleuterskole raak al hoe groter omdat die ekonomiese middelklas al meer onder druk geplaas word,” het me. Michelle Burger, organiseerder van die projek, gesê.
“Die skole wat tans by die projek ingesluit is, ontvang geen of minimale staatsubsidies en moet boonop baie van die ouers van die betaling van skoolgeld vrystel.
“Die skole het eenvoudig nie die nodige geld om noodsaaklike voeding aan die kleuters te bied nie. “Sonder genoegsame voeding kan kleuters nie optimaal funksioneer en ontwikkel nie.
“Vir baie van dié kinders is die maaltyd wat hulle by die skool kry hul enigste ete vir die dag.”
Helpende Hand sal later vanjaar ‘n navorsingsverslag oor die gehalte van voeding onder behoeftige Afrikaner-kinders uitreik.
Die bevindinge van die navorsing sal die organisasie help om die Kosblikkieprojek aan te pas om optimale voedingsbystand te verseker.
Skole wat vir die projek kwalifiseer, sal, buiten kosvoorraad, ook raad en riglyne oor kleutervoeding ontvang.
Helpende Hand doen ‘n beroep op kleuterskole en nasorgsentrums landswyd, wat voedingshulp benodig, om nou aansoek te doen om voedingshulp in 2015 te ontvang.
Aansoeke is oop vir kleuterskole, nasorgsentrums en gr. R- en RR-klasse by laerskole. Kleuterskole kan die aansoekvorm op Helpende Hand se webtuiste, www.helpendehand.co.za, aflaai.
Skole word volgens spesifieke kriteria geëvalueer en moet aan sekere vereistes voldoen.
Solidariteit Helpende Hand.
Besoek gerus ons ander webtuistes hier:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons Facebookblad en volg ons op Twitter.
Vir nuus wat na jou selfoon gestuur word:
BBM – 266F5BCC
WhatsApp – 0748872805



