Meneer Grobler nou amptelik EHS-hoof
Die Erries het gisteraand goeie nuus ontvang: mnr. Pieter Grobler is aangestel as nuwe skoolhoof. Die aankondiging is Maandagaand tydens die groentjiekonsert deur die beheerliggaamvoorsitter, mnr. Japie Celliers, gemaak.
Dit is nie ‘n gewone Dinsdagoggend by die EHS nie. Oral in die klaskamers, gange en kantore heers ‘n atmosfeer van opgewondenheid.
Die Erries het gisteraand goeie nuus ontvang: mnr. Pieter Grobler is aangestel as nuwe skoolhoof.
Die aankondiging is Maandagaand tydens die groentjiekonsert deur die beheerliggaamvoorsitter, mnr. Japie Celliers, gemaak.
Die leerders se reaksie op dié nuus was oorweldigend.
“Almal het saam gejuig asof hulle huise die groentjiekonsert gewen het,” het een van die onderwysers gesê.
Volgens mnr. Grobler was dié oomblik met die leerders vir hom ‘n groot seën.
Mnr. Grobler wat in Belfast grootgeword het, het sy onderwys-loopbaan in 2000 by Hoërskool Die Fakkel in Johannesburg begin, waar hy besigheidstudies en rekeningkunde gegee het.
In 2012 het hy die pos as adjunkhoof by Hoërskool Ermelo aanvaar en die gesin het hierheen verhuis.
Sy vrou, Lynellé, gee ook onderwys by die EHS met Engels as vak.
Ná die skielike afsterwe van die vorige skoolhoof, mnr. Bok Martins, het mnr. Grobler die leisels oorgeneem en vir die laaste agt maande as waarnemende hoof gedien.
Dié gesinsman en pa van twee seuns, Tiaan (11) en Ruan (8), sê sy passie vir kinders en die liefde om met hulle te werk, is sy dryfkrag.
Nog ‘n rede om elke dag aan te pak, is volgens hom die feit dat nie twee dae se uitdagings dieselfde by die skool is nie.
Mnr. Grobler se visie vir die EHS is om ‘n skoolmilieu te skep waar kinders gelukkig is en om hulle in staat te stel om hul passie in die buitewêreld uit te leef. Gelukkige kinders, gelukkige personeel en gelukkige ouers is sy resep vir sukses.



