Kranige Evander-atleet styg bo haar omstandighede uit.
Meisie kry nog snags nagmerries oor aanval.
EVANDER – Chante Graham (17), ’n kranige atleet wat verlede jaar aangerand is toe sy gaan draf het, styg bo haar omstandighede uit.
Sy kry nog snags nagmerries oor die aanval en vrees dat dit weer met haar kan gebeur.
“My lewe is egter in die Here se hande,” het sy gesê.
Chante oefen daagliks omdat sy hoë doelwitte vir haar sportloopbaan het.
Sy is verlede Oktober aangerand en het steekwonde aan die kop, bors en regtersy opgedoen.
’n Middeljarige man het haar voorgekeer en om rigtingaanwysings gevra.
Hy wou ook haar selfoon leen, maar sy het dit nie by haar gehad nie.
“Ek gebruik nie meer dieselfde roete as ek draf nie, want ek sien elke keer sy gesig en onthou alles van vooraf.”
Die verdagte word steeds deur die polisie gesoek.
Hoewel dit ’n traumatiesie ondervinding was, het dit haar nie verhoed om met haar lewe aan te gaan nie.
Die steekwond in haar maag het tyd geneem om te genees en as sy na die merk kyk, is sy dankbaar dat sy deur genade gespaar is.
Chante het haar ma en ouma aan die dood afgestaan, die twee mense na wie sy die meeste opgekyk het.
“Ek verlang na hulle, maar ek hou aan die herinneringe vas.”
Daar gaan dae verby wat dit voel of alles te veel raak, maar sy ontvang krag deur gebed.
Sy is ’n leerling aan Hoërskool Evander en neem aan atletiek, hokkie en krieket deel.
Chante is ’n hokkiespeler van die eerste hokkiespan en oefen hard om haar sporttalent na skool te bevorder.
Sy het onlangs provinsiale sportklere en toekennings ontvang vir haar harde werk en deursettingsvermoë.
Chante glo daarin om voluit te leef en glo dat alles met ’n rede gebeur.
Ondersteuning van familie en vriende is die dryfkrag wat Chante dra.
“Dit is nie die val nie, maar die opstaan wat tel,” het Chante gesê.




