EntertainmentLifestyleLocal newsNewsSchools

Wildsfees word weer aangebied

Ouers van die skool het hande geneem en besluit om fees terug te bring.

BETHAL – Die Wildsfees van Laerskool Marietjie van Niekerk is weer terug na ses jaar.

Vanjaar tree sangers soos Bok van Blerk en Dusty Dixon by die fees op.

Dit vind op Saterdag, 29 Augustus op die skool se rugbyveld in Marklaan plaas.

Hekke maak vanaf 4nm oop, maar die verrigtinge begin eers om 6nm.

Die kaartjies beloop R500 per persoon en dit sluit peuselhappies, ’n driegang maaltyd, ’n souvenierglas, gratis koffiekroeg en toegang tot die optredes van albei sangers in.

Volgens me. Sonja Joubert, een van die organiseerders, is daar ’n beperkte hoeveelheid kaartjies vir die publiek beskikbaar en moet mense so gou as moontlik koop om teleurstelling te voorkom.

Ondernemings kry die geleentheid om een van die 30 afsonderlike lapas vir die aand te koop.

Twee opsies is beskikbaar, naamlik 20 gaste teen R10 000 of 30 gaste teen R15 000.

Elke lapa kry sy eie spysenier wat gashere dus die geleentheid gee om saam met hul gaste te ontspan en die aand te geniet. Ondernemings kan ook van die geleentheid gebruik maak om hul ondernemings te adverteer.

’n Kontantkroeg gaan beskikbaar wees en geen onder agtien kinders word toegelaat nie.

“Dit is om veiligheidsredes,” het organiseerders gesê.

Die eerste Wildsfees is in 1998 aangebied en dit sal vanjaar die elfde een wees.

Volgens mnr. Leon Booyens, hoof, dien dit as geldinsameling vir die skool.

“Die doel is om die gemeenskap van die skool bewus te maak en om geld in te samel om behoeftige leerlinge te help,” het hy gesê.

Mnr. Booyens kon op ’n stadium nie meer met die fees voortgaan nie omdat alles te duur geword het.

“Ouers van die skool het egter hande geneem en besluit om dit terug te bring,” het mnr. Booyens gesê.

Die gemeenskap word genooi om die buitelug boeremakietie te ondersteun en die aand gesellig saam te kuier.

“Ons doen dit vir die skool omdat addisionele fondse broodnodig is.”

Dit beloof om die hoogtepunt van die jaar te wees.

Ondernemings wat lapas wil koop, kan mnr. Johan (Swannie) Swanepoel skakel by 079 528 4837.

Vir meer inligting, skakel me. Joubert by 082 788 2701 of besoek die skool se Facebookblad by Marietjie van Niekerk Wildsfees.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button