Fedsas hou digitale seminaar
Die belangrikheid om tred te hou met die vinnig veranderende tegnologiese wêreld is tydens die seminaar beklemtoon
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het op 12 en 13 Augustus ‘n seminaar oor digitale tegnologie by Ligbron Akademie vir Tegnologie gehou wat ten doel gehad het om meer skole in die digitale era in te lei.
Ongeveer 80 mense, hoofsaaklik beheerliggaamslede, hoofde en opvoeders van 24 skole in Mpumalanga wat met tegnologie werk, het die seminaar bygewoon.
Ligbron, wat lank reeds ‘n leier op die gebied van e-leer en tegnologie in skole is, was die gasheer vir Fedsas wat verskeie opsies aan verteenwoordigers van skole verduidelik het van hoe om op die tegnologie-wa te klim.
Die belangrikheid om tred te hou met die vinnig veranderende tegnologiese wêreld is tydens die seminaar beklemtoon, maar daar is ook spesialishulp en raad aangebied om skole by te staan sodat die regte keuses gemaak word wanneer dit kom by die aanskaffing van tegnologiese toerusting.
Volgens ‘n nuusbrief wat deur Fedsas vrygestel is, het talle skole reeds verlede jaar aangedui dat hulle nie tegnologie kan bekostig nie. Maar dit is so dat skole deesdae nie kan bekostig om sonder tegnologie klaar te kom nie.
Daarom fokus Fedsas op ‘n implementerings-program vir die aanvaarding van tegnologie by skole, ongeag waar ‘n skool op die tegnologiese kaart mag wees.
Fedsas staan skole by met ‘n bloudruk van ‘n goeie langtermyn-tegnologieplan en ook die gereedskap om te bepaal waar daardie skole tans op die tegnologiese reis staan.
Skole sal ook bygestaan word om te bepaal wat die moontlike volgende stappe is en hulle ook blootstel aan produkte en dienste in die mark wat deel van die plan uitmaak.
Die plan word in fases geïmplementeer omdat alle skole nie tegnologies teen dieselfde pas kan begin en vorder nie en omdat daar verskillende behoeftes is vir die verskillende fases, grade en strome.
Verdere inligting kan verkry word by me. Constanze van der Walt, provinsiale bestuurder, Fedsas Mpumalanga by 078 451 8019.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



