Marli leef vir dans
Akrobatiese danse verg harde werk en oefening het sy gesê.
BETHAL – Met ’n slap rug soos Marli Kidson s’n, kan akrobatiese danse vir enige iemand maklik lyk.
Dié danser van Hoërskool Hoogenhout dans al van Gr.0 af.
Sy het in 2002 by Lorraine De Vos se Dansskool aangesluit en dans tot vandag toe nog by die dansskool.
Marli kom haar eksamens met onderskeidings deur en word jaarliks na die AFSA Beurse Akrobatiese kompetisie genooi.
Sy neem ook jaarliks aan die provinsiale kampioenskap deel waar sy altyd goed presteer en na die interprovinsiale kampioenskap deurdring.
In 2012 het sy vir haar solo-dans ’n tweede plek by die Provinsiale Kampioenskap behaal en in 2015 ’n eerste plek.
Sy het ook die hoogste seniorvlak punte in Mpumalanga gehad.
Verder dans sy ook by die Lochali Kunswedstryd wat deur me. De Vos georganiseer word.
By vanjaar se nasionale akrobatiese kampioenskap in Pretoria, het sy met dansers van sewe ander provinsies gekompeteer.
Sy het in haar elite-seksie vir 16 jaar ’n vierde plek behaal.
“My ma, Michelle, het my aan akrobate blootgestel en sy het in haar tyd aan gimnastiek deelgeneem.”
Balansering is vir Marli die grootste uitdaging omdat haar rug so slap is, wat daartoe lei dat balans vir haar moeilik is.
Akrobatiese danse verg harde werk en oefening het sy gesê.
“Jy moet ’n passie vir dit hê en jouself in elke dans uitleef.”
Opwarming is baie belangrik omdat ’n danser baie seer kan kry as sy nie opgewarm het nie.
Akrobatiese danse gaan oor spanwerk, vertroue en uithouvermoë.
“Ek dink dit is goed as dans kompeterend is want dan kan ek myself verbeter en my selfbeeld versterk.
“Aan die ander kant kompeteer ek baie met een van my vriendinne en dit maak dinge somtyds ingewikkeld,” het sy gesê.
Me. De Vos inspireer dié danser omdat sy haar as ’n moederlike figuur sien en omdat sy altyd hulp aanbied.
Sy wil regtig die beste vir haar dansers hê en sy is moedig dansers altyd aan.
Volgens Marli moet akrobate vertroue in mekaar hê en somtyds ander dansers se belange eerste stel.
“Hier by die dansskool bou ons nuwe vriendskappe.”
Haar doelwitte is om haar eie dansskool eendag oop te maak en saam met dit fotografie te studeer sodat sy altwee die dinge waarvan sy hou, kan doen.
Sy wil ook die hoogste vlak in akrobatiese danse bereik en haar danstalent met ander deel.
Sy is op 30 Oktober 1997 in Rustenburg gebore en het haar laerskoolloopbaan by Laerskool Marietjie van Niekerk voltooi.
Op hoërskool neem sy aan Hoogies got Talent deel, speel hokkie en doen atletiek.
In haar vrye tyd ry sy perd, vang vis en skiet langafstand.
Haar ma inspireer haar omdat sy altyd die beste vir Marli wil hê en maak nie saak wat gebeur nie, sy sal haar altyd bystaan.
“Sy is ’n voorbeeld vir my en sy respekteer my besluite.”
Haar raad vir jong mense is om altyd na ander te luister en om altyd jouself te wees.
“Wees eerlik en opreg en jy sal baie hoogtes bereik,” het Marli gesê.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590