Local newsNewsReligion

Geskiedenis gemaak en herleef in Chrissiesmeer

Die geskiedenis van die gemeente van die Hervormde Kerk Chrissiesmeer wat reeds 123 jaar bestaan het Sondag nie net herleef tydens die onthulling van die galery van foto's van leraars sedert die ontstaan van die gemeente nie.

Die geskiedenis van die gemeente van die Hervormde Kerk Chrissiesmeer wat reeds 123 jaar bestaan het Sondag nie net herleef tydens die onthulling van die galery van foto’s van leraars sedert die ontstaan van die gemeente nie.

Daar was ook vir die eerste keer ‘n vrou op die kansel van die pragtige ou kerkie toe prof. Elsabé Kloppers die diens gelei het.

Die huidige leraar, dr. Frans Boshoff, het foto’s van die leiers sedert die ontstaan van die gemeente en oor die jare heen bekom, dit deur die bekende fotograaf Lourens de Beer laat restoureer en toe laat raam. Die galery in die konsistorie sal sorg dat ‘n stukkie van die gemeente se geskiedenis behoue bly.

Prof. Elsabé en haar man, dr. Wian Kloppers, het van Pretoria gekom om die geleentheid by te woon.
Dr. Wian Kloppers is die redakteur van die Hervormde Kerk se glanstydskrif, Konteks, en prof. Kloppers beklee ‘n professoraat by Unisa waar sy homiletiek (predikkunde) en himnologie (studie van geestelike lofliedere) doseer.
Sowat 50 van die liedere in die nuwe liedboek se woorde het uit haar pen gevloei.

Dié merkwaardige vrou is wel berese, bied internasionaal lesings aan en is baie vaardig in Duits.
Haar internasionale verbintenisse strek sover as die Internationale Arbeitsgemeinschaft für Hymnologie (IAH). The Hymn Society in the USA and Canada en The Hymn Society of Great Britian and Ireland (HSGBI).

Sy is ook ‘n vaardige orrelis en plaaslik het sy verbintenisse met, onder andere Die Suid-Afrikaanse Kerkorreliste Vereniging, South African Society for Research into Music (SASRIM) en The interdenominational committees for new hymns (1996-2001).

Sy was ook vanaf 1999 tot 2004 die redakteur van “Vir die Musiekleier”. Saam met dr. Boshoff was sy op die Psalmkommissie wat die psalms verwerk het vir die Liedboek van die Kerk. Sy was ook betrokke by die gesangegedeelte van die Liedboek.

Sy het oor die jare heen meer as 30 internasionale konferensies oor verskeie onderwerpe wêreldwyd bygewoon.
Prof. Kloppers het etlike publikasies die lig laat sien en gewaardeerde resensies op boeke, musiek en CD’s gelewer.

Sy het sewe grade verwerf en doen navorsing in verskeie rigtings, waaronder himnologie en kerkmusiek, geloofskommunikasie en lofprysing en identiteit.

Ná afloop van die diens het die gaste en gemeentelede die ete geniet wat deur die vroue van die gemeente voorberei is.
Die gemeentelede was dit eens dat dit ‘n voorreg was om die Kloppers-egpaar in hul midde te hê.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button