NAK verloor jarelange hofstryd teen ouditeurs
Saak wat in 1999 begin is, is in 2015 in PwC se guns beslis.
BETHAL – PricewaterhouseCoopers (PwC) het ‘n jarelange hofstryd teen die Nasionale Aartappelkoöperasie (NAK) gewen nadat die stryd tot in die Konstitusionele Hof gedraai
het.
NAK het PwC en hul vorige ouditondernemings in 1999 vir meer as R283m gedagvaar vir die nalatige oudit van die koöperasie se finansiële state vir die periode 1984 tot 1997.
Die saak was vir meer as 200 dae in die Hooggeregshof met hofrekords wat uit dokumente van bykans 200 000 bladsye bestaan het.
Die Hooggeregshof het in 2011 die meeste van NAK se eise van die hand gewys, behalwe vir eise wat verband hou met skade wat gelei is weens slegte skulde.
Die hof het bepaal dat PwC meer as R62m aan NAK moet betaal.
NAK se koste vir die litigasie is aanvanklik befonds deur sommige NAK-lede, toe vir ‘n periode deur die Noord-Transvaalse Koöperasie, en daarna deur twee verskillende
Australiese maatskappye, aanvanklik Hillcrest Litigation Services en later IMF Bentham Ltd (“IMF”).
Die kontrak tussen NAK en IMF het bepaal dat IMF by verre die grootste deel van enige toekenning in NAK se guns, sou ontvang het.
PwC en NAK het teen die uitspraak geappelleer en na twee jaar se voorbereiding, het die Appélhof in Maart 2015 alle eise teen PwC afgewys.
Die Appélhof het bevind dat PwC en die vennoot verantwoordelik vir al die oudits, mnr. Kobus Odendaal, geensins aanspreeklik was nie.
Die kruisondervraging van mnr. Odendaal deur NAK se regspan is ook deur die Appélhof beskryf as op die rand van misbruik en belediging.
NAK het verder nie daarin geslaag om te bewys dat daar roekelose wanbestuur deur die koöperasie se kredietafdeling was nie.
Die Appélhof het ook bevind dat mnr. David Collett wat vir meer as 150 dae in die getuiebank was en op wie se deskundige verslag NAK grootliks gesteun het, bevooroordeeld was en ook nie onafhanklik was nie.
In hul uitspraak het die regters bevind dat mnr. Collett op geen van die gebiede waaroor hy getuig het, as ‘n deskundige beskou kon word nie.
‘n Groot gedeelte van sy getuienis was oorwegend hoorsê omdat hy geen persoonlike kennis van die feite gehad het nie en dit is deur die hof verwerp omdat bitter min daarvan ondersteun is deur getuies wat self by die gebeure betrokke was.
Die Appélhof het NAK se regspan gekritiseer omdat een van die ooglopende sleutelgetuies en ‘n voormalige voorsitter van NAK se direksie, mnr. Kobus Pieterse, dikwels
in die hof teenwoordig was, maar vreemd genoeg nooit geroep is om te getuig nie.
NAK en IMF het na die Konstitusionele Hof geappelleer en dié hof het die appél in Junie vanjaar in geheel afgewys.
PwC het IMF as ‘n party tot die aksie gevoeg, wat dit moontlik gemaak het vir die hof om ‘n kostebevel teen IMF te maak om sodoende PwC se koste van die litgasie te
verhaal.
PwC het R40m van hulle koste verhaal.
NAK het verskeie prokureurs en advokate op rekord gehad.
Die span advokate wat die laaste sowat 10 jaar op rekord was, het bestaan uit adv. George Alberts SC, adv. Mike Maritz SC en adv. Nicky Maritz en die mees onlangse
prokureur op rekord was Kirkcaldy Pereira Inc.
PwC is verteenwoordig deur Norton Rose Fulbright South Africa Inc. (voorheen bekend as Deneys Reitz Inc.), gelei deur mnr. Tony Chappel en me. Elze Lamprecht.
Die advokate wat vir PwC opgetree het, is adv. Willem van der Linde SC, adv. Frans Barrie SC en adv. Christo Bothma.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 590c76a8
WhatsApp – 0793644185



