Evangelis dr. Suzette Hattingh besoek Standerton
Die Standerton4Jesus Leraarsforum nooi die hele Standerton en omgewing om die byeenkomste by te woon.
Die evangelis dr. Suzette Hattingh sal Standerton besoek.
Ons is bevoorreg om Suzette Hattingh, ‘n intersessor en evangelis van formaat, op Standerton te ontvang.
Sy is oorspronklik ‘n nooi uit ons kontrei.
Suzette se besoek vorm deel van die strategie dat leraars in eenheid saamwerk regoor Standerton en Charl Cilliers om God se koninkryk op Standerton en omgewing te laat uitbrei.
Die leraars en intersessors se hartsbegeerte is om God se roepstem te beantwoord, om Sy glorie in Sy kerk en gemeenskap te sien herstel en om soveel moontlik siele vir die liefde en waarheid van Jesus Christus te wen.
God het ‘n afspraak met Standerton en sy mense in 2016 en wil ons met Sy tasbare teenwoordigheid seën.
Hy wil Sy beloftes in vervulling bring vir die plan en roeping wat Hy met Standerton en omgewing het.
Deel van God se plan is om Suzette met Sy boodskap te stuur.
Suzette het in die Cornelia omgewing grootgeword en was ook daar op laerskool en het haar skoolloopbaan op Vrede voltooi.
Sy het haar opleiding as hospitaalsuster en vroedvrou in Standerton Hospitaal ontvang en haar beroep voluit uitgeleef.
Suzette het ‘n kragtige ontmoeting met God gehad op Standerton en tot bekering gekom waarna sy voluit vir God begin leef het.
Suzette se bediening as intersessor en evangelis is gevorm deur haar ondervinding as leier in die intersessiebediening en die voorbereiding van uitreike deur die bekende evangelis, Reinhard Bonnke en Christ for all Nations (CfaN).
Sy het uiteindelik Reinhard se mede-evangelis geword.
Op die eerste dag van Januarie 1997, in medewerking met Gayle Claxton, het Suzette “Voice in the City”, ‘n internasionale sendingorganisasie gestig, om so uit te reik na die verlorenes en gebrokenes van hart, ongeag hul lewenswandel of etniese agtergrond.
Dié bediening fokus op stede en plaaslike gemeenskappe wêreldwyd.
Sy word kragtig gebruik in die opbou en toerus van die liggaam van Christus deur middel van vaste Bybelse onderrig.
Suzette se bediening het uitgebrei na boeke, asook oudio- en videomateriaal gebaseer op haar ondervinding in die lewering van ‘n kragtige en gesalfde boodskap.
Die Standerton4Jesus Leraarsforum nooi die hele Standerton en omgewing om die byeenkomste by te woon.
Program:
• 28 Januarie om 6.30nm en 29 Januarie om 9.30vm spreek Suzette die breë kerk toe by Waterfront Standerton.
Registreer asseblief op ons webwerf.
• 29 Januarie om 6.30nm by SHS sportgronde is daar ‘n evangelisasie-uitreik waar Suzette onder meer vir siekes gaan bid.
Suzette spreek ook leraars toe by ‘n spesiale leierskapsamekoms.
Vir enige inligting, besoek gerus www.standerton4jesus.co.za, tel. no. 017 712 2929 en wees op die uitkyk vir plakkate en strooibiljette oral versprei op die dorp.
Standerton4Jesus.



