STANDERTON – Mans van die omgewing het van 22 tot 24 April die Standerton-Val Mighty Men-konferensie by die Val Boerevereniging bygewoon.
Die verrigtinge het op 22 April om 7nm begin en die laaste item vir die naweek het op 24 April om 10vm begin.
Die doel van die konferensie was om mense se lewens te verander deur hulle met God te herenig, terwyl hulle die geleentheid het om saam te kom en groter bystand aan hul families en ondernemings te bied.
Die mans moes hul eie kamptoerusting, Bybels en kos saamneem.
Vyf sprekers het die manne gemotiveer en daar was gereelde lofsang wat die atmosfeer verryk het.
Mans wat van ver gekom het, kon nie die koue hanteer nie en het laatnag ander verblyf gaan soek, maar was vroegoggend weer terug.
Mnr. Stephen Nortjé was een van die sprekers en het ook met die lofsang gehelp.
Past. Bennie Marais het sy boodskap oor die verlore seun in die Bybel gedeel.
Saterdag is met lofsang begin en past. Gerhard Swart was aan die woord met die pa-seunverhouding wat onder die soeklig geplaas is.
Laatmiddag het almal die geleentheid gekry om hul eie getuienis te lewer.
Die aandsessie het weer met lofsang afgeskop, waarna mnr. Pierre Holtzhausen sy getuienis gedeel het.
Past. Dirk van der Schyff het op 24 April die laaste item aangebied.
Daar was ’n gesinsdiens en die mans se vroue en kinders was welkom om die diens saam te geniet.
“Dit was ’n fantastiese ondervinding,” het mnr. Marco Oelofsen, Standerton-inwoner, gesê.
“Ek het baie geleer en inspirasie gekry.”




