Engelse weer met ’n Boere-atmosfeer
'n Belangstelling in die geskiedenis van ons land het selfs 'n bus met gaste van Pretoria en 'n bus van "The Military History Society" na Val laat vertrek.
Die klein dorpie Val, op ons voorstoep, het op 14 Mei hulle jaarlikse Boer & Brit Dag aangebied.
Die reën wat kort-kort neergeval het en gepaardgaande koue het nie in sowat 170 gaste se pad gestaan om ‘n sinvolle dag te geniet nie.
Die herdenking van die Anglo Boereoorlog van 1899 – 1902 verwys na die gewapende konflik tussen Groot Brittanje en die destydse Boererepublieke in die Vrystaat en Transvaal.
Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand het die ideologie van imperialisme en strewe na selfbeskikking van die Boere op die spits gedryf.
‘n Belangstelling in die geskiedenis van ons land het selfs ‘n bus met gaste van Pretoria en ‘n bus van “The Military History Society” na Val laat vertrek.
Diegene wat hunker na vervloeë dae is beloon met tradisonele geregte en uitstallers wat handgemaak artikels van die hand gesit het.
Afval, melktert en koeksisters, konfyt, boerebrood en ingelegde produkte, was onder meer op die spyskaart.
Gaste kon ook keel natmaak by die stalletjies met wyn en kersiebier.
Die skrywer, Leon Strachan se boek “Krygers en Guerrillas” is ook bekendgestel.
‘n Kompetisie vir besgeklede Boer en Brit het nie agterweë gebly nie en monumente is besoek om die nalatenskap van gevalle soldate te eer.
“‘n Fantastiese gees het geheers,” het me. Rita Britz, mede-eienaar van die Val Hotel, gesê.
“Dit was Engelse weer met ‘n Boere-atmosfeer.”






