Lynette Beer leer vroue hoe om doelgerig te leef
“Jy moet weet wie jy is, waarnatoe jy instaat is en wat jou skeppingsdoel is.

Motiveringspreker en teoloog me. Lynette Beer het vroue geleer om doelgerig te leef die afgelope naweek op Holfonteinplaas tydens die Vroue op hul Knieë-kamp.
Me. Beer het die vier verskillende temperamente van die proto-psigologiese teorie wat die mensdom in vier kategorieë opdeel deur gebruik te maak van die kleure geel, rooi, groen en blou, verduidelik.
Sy het gesê dat geel- en rooimense deur woede aangespoor word en groen- en bloumense deur vrees.
Sy het ook verduidelik dat jy nie jou temperament kan verander nie omdat dit is wie jy is en dat dit nie noodwendig ‘n slegte aansporing behoort te wees as jy bewus daarvan is en weet hoe om dit tot jou voordeel te gebruik en te beheer nie.
“Jy moet weet wie jy is, waarnatoe jy instaat is en wat jou skeppingsdoel is.
“Dit wat ek met julle deel, het voorwaar my lewe verander en dit kan joune ook verander.”
Wie ons is, bepaal hoe ons na die lewe kyk en hoe ons optree.
Jy moet jou goeie en swak eienskappe leer ken en dan kies om van die platform van lig in plaas van die platform van duister rasioneel op te tree deur te stop, te dink en dan te doen.
Me. Beer het verder oor emosionele of liefdestale, dit wat vir mense belangrik is, gepraat.
Sy het verduidelik dit as ’n emosionele “tank” wat gevul moet word.
“Ons gee nie vir mekaar emosionele taal nie en dan is daar konflik en ongelukkigheid en ons voel minderwaardig en nooit goed oor onsself nie.”
Die vyf emosionele tale is geskenke, gehaltetyd, opbouende woorde, diensbaarheid en fisieke kontak.
“As jy uitvind wat vir hom of haar belangrik is en hulle temperament verstaan dit, sal jy ’n beter verhouding met die persoon kan handhaaf.”
Me. De Beer het in diepte oor woede en vrees en wat dit aan jou kan doen, gepraat.
Emosies is ’n sterk gevoel wat byvoorbeeld deur hartseer of vreugde veroorsaak word en dan ’n sekere reaksie tot gevolg het.
“Negatiewe emosies maak jou siek.
“Wanneer die senustelsel gespanne raak weens vrees en woede, word die liggaam beïnvloed.
“Dit versteur die normale balans en bloedvloei en veroorsaak siektestoestande.
“Sestig tot 90 persent van siektes word deur emosionele probleme veroorsaak.”
Me. De Beer het gesê emosies van woede laat bloedvate swel en abnormale hoeveelhede bloed na die kop vloei en dat daar 365 keer in die Bybel gesê word om nie te vrees nie.
“Dit is ’n daaglikse herinnering.
“Hoe verder jy van God af beweeg, hoe banger word jy en vrees verhoed dat jy jou beste gee.”
Die vrouekamp is deur Vroue op hul Knieë onder leiding van me. Jenny Slabbert Vrey gereël en me. Geldah Simich het die lofprysing gelei.
Om by Vroue op hul Knieë betrokke te raak, skakel me. Vrey by 082 372 7111.
Om meer van die vier temperamente te leer, hoe om doelgerig te lewe of me. Beer se boek te koop, besoek haar webtuiste by www.seedsofinspiration.co.za of haar Facebook blad by Lynette Beer – Seeds of Inspiration.





