AfriForum se blou- en groendruppelprojek gee gemengde uitslae
Watertoetse wat onlangs op Bethal en Secunda gedoen is, dui daarop dat Secunda se drinkwater en behandelde rioolwater skoon is, maar Bethal se behandelde rioolwater voldoen nie aan die nodige gesondheidsvereistes nie.
AfriForum het onlangs Secunda en Bethal se watergehalte as deel van hul nasionale blou- en groendruppelprojek getoets.
“Ons kon vasstel dat Secunda se drink- en rioolwater skoon is en geen swaarmetale bevat nie en dat bakterievlakke aan gestelde standaarde voldoen.
“AfriForum gaan die watergehalte deurlopend toets om die grondwetlike regte van Secunda se inwoners te beskerm en te verseker dat hulle van skoon drinkwater voorsien word,” sê mnr. Hennie Pretorius, voorsitter van AfriForum Secundatak.
Die watertoetse wat op Bethal gedoen is, dui aan dat die drinkwater veilig is. Water is onder meer by verskeie openbare geboue op die dorp getoets, asook by verskillende plekke langs die Blesbokspruit en Bethaldam.
“Daar sal dringend aandag aan rioolaanlegte geskenk moet word. AfriForum beplan om so gou as moontlik ondersoek in te stel en die nodige stappe te neem,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se distrikskoördineerder: Mpumalanga-Wes.
“Ons kon vasstel dat Bethal se drinkwater skoon is en geen swaarmetale bevat nie en dat die bakterievlakke aan gestelde standaarde voldoen,” sê mr. Ingrid Human, voorsitter van AfriForum Bethal.
Die burgerregteorganisasie het egter sy kommer uitgespreek omdat die rioolwater nie aan gestelde standaarde voldoen nie.
AfriForum se nasionale blou- en groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte.
Dié projek fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater (bloudruppel) en behandelde rioolwater (groendruppel) gelewer word.
“Ons versoek Secunda en Bethal se inwoners om aan AfriForum die mandaat te gee om die watergehalte voortdurend te moniteer,” sê Hillel Coetzer.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.




