Secunda-egpaar woon al tien jaar in Brisbane in Australië
Vir die egpaar was dit andersins maklik om in Australië aan te pas omdat die land baie eenders as Suid-Afrika is.
Me. Elize van Wyk en haar man woon al vir bykans 10 jaar in Brisbane in Australië, maar is steeds trots Suid-Afrikaans.
Die egpaar het ’n werksaanbod uit Australië gekry en besluit om hul lewe in Suid-Afrika in Augustus 2007 op te pak.
Hulle het na Australië verhuis nadat hulle die Engelse IELTS toets geslaag het, ’n volle mediese ondersoek ondergaan het en daar bevestig is dat hulle nie kriminele rekords het nie.
Al hul besittings is per skip na Australië gestuur.
“Ek sal eeder aanbeveel dat mense alles verkoop en hier van voor af begin, want die koste om dit per skip oor te stuur, is te hoog,” het me. Van Wyk gesê.
Mnr. Van Wyk het twee jaar later om permanente residensie aansoek gedoen.
Me. Van Wyk beskik oor dubbele burgerskap en het dus nie ’n permit nodig om in Australië te woon en te werk nie.
Sy het vertel dat sy haarself oorwerk om die leemte wat haar haar kinders en kleinkinders laat, te vul.
Die Van Wyk-kinders kon nie destyds saam emigreer nie omdat die kontrak nie vir volwasse kinders voorsiening gemaak het nie.
“Om sonder die armpies van my kleinkinders om my nek te wees, is die ergste.”
Vir die egpaar was dit andersins maklik om in Australië aan te pas omdat die land baie eenders as Suid-Afrika is.
Daar is winkels wat Suid-Afrikaanse kos en wyn verkoop en hulle maak self boerewors.
“Ek geniet veral die skoon strate, oulike inkopiesentra, pragtige strande en veilige behuising, asook die uitstekende mediese versorging wat die staat bied.
“Ek is in 2010 met lymphoma-kanker in die vierde stadium gediagnoseer en vir my was dit asof ek hierheen gestuur is sodat ek die beste behandeling kon ontvang.”
Hoewel elke dorp oor sy eie hospitaal beskik, moes me. Van Wyk twee ure ry om behandeling te ontvang.
“Dit was ver, maar die paaie is ’n plesier om te ry want dit word baie goed onderhou en daar is ook publieke vervoer beskikbaar.”
Me Van Wyk was verrass deur die ondersteuning wat sy van die dorpenaars ontvang het toe sy gekies is as die “Face for Relay for Life” in 2015.
Sy het ook in 2016 die “Female Courtesy”-toekenning vir uitstaande diens aan die gemeenskap van Chinchilla gewen.
Me. Van Wyk maak seker dat sy Suid-Afrika en haar familie en vriende jaarliks besoek.
Sy beveel aan dat mense wat dit oorweeg om te emigreer, kennis moet neem dat die proses duur en tydsaam is, dat hulle hul kinders en hul situasies mooi moet opweeg en deur ’n agent gaan wat die proses vergemaklik.
Haar beste raad is: “As jy die geleentheid het, neem dit.”





