Local newsNews

Solidariteit Helpende Hand doen beroep op gemeenskap op pleegouers te word

Die webtuiste verduidelik in diepte wat pleegsorg behels en bied ’n uiteensetting van die regte van die pleegouer, biologiese ouers en die pleegkind.

Solidariteit Helpende Hand het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om hulle as pleegouers beskikbaar te stel.

Volgens Helpende Hand het die getal pleegouers in die land oor die afgelope drie jaar drasties afgeneem vanaf meer as 570 000 aan die einde van 2013 tot 450 000 in 2016.

Hulle het ’n spesiale platform, www.pleegsorg.co.za, bekendgestel om die tekort die hoof te bied deur die pleegouerproses makliker te maak.

Potensiële pleegouers worstel met heelwat vrae wat hulle verhinder om na vore te kom.

Voornemende pleegouers of persone wat hul woning as plek van veiligheid wil aanbied, kan op dié webblad registreer waar hul gegewens aan die onderskeie geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies, wat die keuringsproses hanteer, versprei word.

Volgens me. Isabel Faurie, maatskaplike werker, is daar veral in Mpumalanga ’n groot tekort.

“Standerton en omgewing ondervind die laaste paar jaar ’n geweldige daling.

“Honderde kinders is op soek na ’n liefdevolle huis en voornemende pleegouers moenie bang wees om in te spring en ’n verskil te maak nie.”

Hoewel Helpende Hand nie oor die statutêre magte beskik om kinders in pleegsorg te plaas nie, is hulle vanweë hul betrokkenheid by armoede onder wit mense bewus van gebreke in die stelsel.

Die webtuiste verduidelik in diepte wat pleegsorg behels en bied ’n uiteensetting van die regte van die pleegouer, biologiese ouers en die pleegkind.

Pleegsorg behels dat ’n kind by gekeurde pleegouers geplaas word nadat hy of sy deur die Kinderhof, ingevolge die Kinderwet, sorgbehoewend bevind is.

Redes vir die verwydering van kinders uit ouerlike sorg hou verband met onder meer fisieke, seksuele en/of emosionele mishandeling, fisieke en/of emosionele verwaarlosing, ernstige gesinskonflik en gesinsgeweld, alkohol- en dwelmmisbruik deur die ouers en onstabiele maatskaplike funksionering.

“Die uitdagings kan egter nie geringgeskat word nie,” het me. Faurie gesê.

“Dit is dus noodsaaklik dat voornemende pleegouers deeglik gekeur moet word om te verseker dat ’n holistiese benadering tot die behoeftes van die betrokke kind gevolg word.”

Belangstellendes kan op die platform registreer en in aanraking gebring word met maatskaplike organisasies wat dringend na pleegouers op soek is.

Indien jy en jou gesin ’n verskil in ’n getraumatiseerde kind se lewe wil maak met ’n liefdevolle en stabiele huishouding, besoek hulle webtuiste of SMS “pleegsorg” na 38969 om R10 vir Helpende Hand se pleegsorgfonds te skenk.

Dié fonds word aangewend om kinders se bykomende behoeftes, soos arbeidsterapie, spraakterapie en berading, te dek.

Vir meer inligting, skakel me. Alisha de Lange by 082 923 1438.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button