Geestelike kos vir talle vroue
Delores vertel dat die groep ontwikkel het in 'n geestelike oase waar vroue in 'n veilige plek hul lewe en trauma kan deel en genesing kry.

Sakkie en Delores Cronjé het 36 jaar gelede na Ermelo verhuis waar hulle saam in die bediening hul opdrag van die Here uitgevoer het om buite die kerk se mure te werk en na huise toe te gaan om Sy woord te verkondig.
Delores het besef dat daar ‘n groot behoefte vir geestelike ondersteuning by vroue is en het haar aan dié saak toegewy.
In 1981 het die interkerklike vroue-Bybelstudiegroep ontstaan met die fokus op vrouwees.
Weekliks het hulle in die vroue se sitkamers bymekaargekom tot die groep gegroei het tot 35 lede. Daarna moes hulle skuif na Delores se voorhuis waar hulle 21 jaar lank vergader het.
Vandag is die groep meer as 50 vroue sterk en kom hulle weekliks by die Family Life Church bymekaar waar hulle mekaar bemoedig en hul weeklikse geesteskos ontvang.
Delores vertel dat die groep ontwikkel het in ‘n geestelike oase waar vroue in ‘n veilige plek hul lewe en trauma kan deel en genesing kry.
Sy sê sy is nie die spil is waarom alles draai nie, want hulle het deur die jare ‘n jonger geslag opgerig wat bekwaam is om die Woord te bedien.
Die vroue kom en gaan volgens hul behoefte aan genesing en van die vroue keer terug na hul eie gemeentes as hulle genees is om hul werk daar voort te sit.
Daar is egter ook ‘n groep vroue wat van die beginjare af getrou weekliks hul geesteskos kom ontvang.
Delores wou voorheen al die groep ontbind weens ‘n gebrek aan belangstelling en omdat sy dit nie net uit gewoonte wou doen nie. Dan het daar egter weer vroue opgedaag wat ‘n behoefte het en dit het haar laat besef hoekom sy dit doen.
“Solank as die mense kom, sal ek hier wees vir hulle. Ons kerk is sonder mure en almal is welkom en ons bedien die dorp onvoorwaardelik.”
Baie water het die laaste 36 jaar in die see geloop en vergete is die dae van Bybelstudie in die sitkamer en eredienste in die skouterrein se hoendersaal vir 21 jaar lank.
Vandag funksioneer die kerk in De Bruinstraat met ‘n sterk jong span en Delores vertel skertsend dat daar soveel mense is wat opgerig is om die Woord te verkondig dat sy net te bly is as sy ‘n beurt kry.
“Ons is geestelike vaders en moeders wat geestelike seuns en dogters oplei om die Here se werk te doen.”
Vroue wat belangstel om by die Bybelstudiegroep aan te sluit, is welkom om Dinsdae om 10:00 saam by die Family Life Church in De Bruinstraat bymekaar te kom.
Vir meer inligting oor die groep, skakel Delores by 072 295 7299 of Laetitia by 082 809 6596.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



