Editor's choiceLocal newsNews

Baba Luke na Witbank Hospitaal oorgeplaas

Die gesin se mediese fonds betaal nie vir die neonatale intensiewe sorgeenheid nie en die eenheid se rekening beloop reeds meer as ’n miljoen rand.

Baba Luke Britz van Secunda is op 14 Februarie op 28 weke gebore en het ’n skrale 1.035kg by geboorte geweeg.

Hy weegs tans 2,25kg en het tot net meer as 40cm gegroei.

Luke is op 31 Mei dringend vanaf die Ermelo Staatshospitaal na die Witbank Provinsiale Hospitaal oorgeplaas.

“Dit lyk of Luke epileptiese aanvalle kry, maar dit is nog nie duidelik wat fout is nie.

“Ons kan nie wag vir die dag dat hy ontslaan word nie,” het Luke se ouma, me. Estie Smit, gesê.

Probleme tydens swangerskap

Me. Hanrie Britz moes ’n noodkeiser ondergaan nadat die vliese van haar vrugwatersak op 28 weke van haar swangerskap geskeur en die vrugwater uitgeloop het.

Dokters kan nie verduidelik waarom dit gebeur het nie.

“Dit is glad nie vir my lekker om Luke só te sien nie.

“Dit maak dit ook baie moeilik omdat hy nou so ver van ons af weg is,” het me. Britz gesê.

Die gesin se mediese fonds betaal nie vir die neonatale intensiewe sorgeenheid nie en die eenheid se rekening beloop reeds meer as ’n miljoen rand.

Hoewel hulle reeds geldinsamelingsgeleenthede aangebied en verkopings gehou het, moet hulle steeds meer as ’n miljoen rand betaal.

“Ons bedank almal wat elke geldinsamelingsgeleentheid tot dusver ondersteun het, asook diegene wat geld inbetaal het,” het me. Smit gesê.

Luke se oupa, past. Hannes Smit (50), is op 2 Mei aan ’n hartaanval dood.

Hulle was op pad hospitaal toe om vir Luke te gaan kuier, toe dit gebeur het.

Mani Jackson het op 31 Mei by Our Place Sports Bar op Trichardt ten bate van die Baba Luke Fonds opgetree.

Geld wat by dié geleentheid ingesamel is, gaan gebruik word om die eenheid se rekening te betaal.

Mani het aangekondig dat hy die vertoning gratis sal aanbied en Our Place Sports Bar het ook hul geriewe gratis beskikbaargestel.

As jy vir Baba Luke kan help, kan jy geld in die volgende rekening inbetaal of die verskeie geleenthede ondersteun waar daar geld vir hom ingesamel word:

Luke Britz, Capitec Bank Secunda-tak, spaarrekeningnommer 151 424 3545.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button