Kyk na Secunda-fotograaf deur ’n ander lens
“Mens kan baie goed verloor, soos besittings en geld, maar niemand kan jou ‘memories’ van jou af wegneem nie.”
Me. Annelize du Toit kan onthou hoe haar pa, mnr. Johan Retief, altyd foto’s van die gesin geneem het.
Hy was ’n onderwyser en deeltydse fotograaf wat ook lugfoto’s van al die skole op Secunda geneem het.
Dié foto’s kan steeds by meeste van die skole gesien word.
Foto’s en nogmaals foto’s
My pa het ons veral op Sondae afgeneem.
“Ons het altyd daaroor gekla omdat dit net heeltyd foto’s, fotos en nog foto’s was, maar vandag is ek dankbaar.
“Mens kan baie goed verloor, soos besittings en geld, maar niemand kan jou ‘memories’ van jou af wegneem nie.
“Ek kan nou na my herinneringe op foto’s terugkyk.
“Daar is foto’s van my eerste verjaardag, hoe Secunda destyds gelyk het en selfs toe dit hier gesneeu het.”
Me. Du Toit onthou dat sy al op vyfjarige ouderdom ’n kamera vasgehou en foto’s geneem het.
“Ek het op skool ’n ou mik-en-drukkamera gehad en sal nooit die opgewondenheid vergeet van wanneer ons die films vir ontwikkeling ingegee het nie.
“Jy kon eers twee weke later jou foto’s gaan haal en sien wat jy afgeneem het en hoe dit uitgekom het.”
Me. Du Toit het haar laerskoolloopbaan aan Laerskool Goedehoop voltooi en was ’n leerder aan Hoërskool Secunda.
Sy het in 1998 haar eerste kamera gekoop wat toe nog met film gewerk het en het ses jaar later spore in die professionele fotografiewêreld begin trap.

Sy het na skool bemarking aan Pretoria Technikon studeer en eers vir ’n produksiemaatskappy gewerk.
Terwyl haar eie fotografie-onderneming gegroei het, het sy haar skoonsuster gehelp en later by haar suster se fotografie-onderneming aangesluit waar hulle troufoto’s en ander geleenthede afgeneem het.
Me. Du Toit het in 2014 as eiendomsagent by Perfektum aangesluit en werk nog daar.
Haar eie onderneming is goed op dreef en sy geniet dit om liefdevolle paartjies op hul spesiale dae af te neem, asook families en enige ander geleenthede.
“Dit is spesiaal om mense se herinneringe vir hulle vas te vang.
“Ek help ook gereeld ander fotograwe en gee nie om om dit wat ek weet, met ander te deel nie.
“Ek hou daarvan om ander te leer.
“Daar is al ’n paar suksesverhale van mense wat my gehelp het tydens troues wat vandag hul eie fotografie-ondernemings het.”
Kiekieklub
Laerskool Secunda het ook onder haar leiding die Kiekieklub gestig waar hulle leerders die basiese tegnieke van fotografie leer.
Hulle vergelyk foto’s en kyk waarom een beter as ’n ander een is.
“Ek geniet dit om die kinders oor fotografie te leer en dit is baie bevredigend wanneer hulle opgewonde oor hul foto’s is.
“Studiofoto’s is nie vir my ideaal nie.
“Om natuurlike lig en verskillende plekke as agtergrond te gebruik, maak die mooiste foto’s.”
Me. Du Toit het al sover as in die Kaap en Botswana foto’s geneem.
Sy het die bekende voormalige vrouekrieketkaptein, Mignon du Preez, se troufoto’s geneem wat in die Finesse-tydskrif verskyn het.
Haar suster kon nooit as kind Annelize sê nie en het haar Lila genoem.
Die familie noem haar steeds Lila en vandaar haar onderneming se naam Lilatography.
Lilatography bied 25 persent afslag op ’n fotosessie van ’n gesin of selfs troue vir een gelukkige persoon wat dié artikel gelees het.
Skakel 082 336 5037.
- Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
- “Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



