Babakatjie herhaaldelik op Secunda geskiet
Veearts moes diertjie uisit omdat dit erg gely het.
’n Bekommerde inwoner het me. Nicolette van Zyl van Feral Care Friends op Secunda verlede week geskakel oor ’n babakatjie wat in Herbert Bakerstraat in die moeilikhied was.
“Ek het die katjie langs die pad sien lê toe ek verby gery het en kon sien iets is fout.
“Ek het gestop en haar probeer vang, maar sy was só verskrik dat sy weggehardloop het toe ek naby kom.
“Sy het in een van die huise se tuin gaan wegkruip waar ek haar nie in die hande kon kry nie.”
Die inwoner het me. Van Zyl geskakel wat die katjie gevang en na die veearts geneem het.
“Die diertjie was erg beseer en die veearts het besluit dat dit wreed sou wees om haar aan die lewe te probeer, want sy het te veel gely.
“Sy moes uitgesit word en die nadoodse ondersoek het aangedui dat sy herhaaldelik met ’n windbuks geskiet is.
“Dit was ’n skok om te besef ’n mens het dit aan die babakatjie gedoen, hoe wreed kan mens wees!”
Volgens me. Jenneth Geel, senior inspekteur van die Hoëveldrif DBV, het die persoon wat die katjie geskiet het, verskeie wette oortree.
“Dit is onwettig om ’n vuurwapen in ’n geboude gebied af te vuur en die feit dat die katjie gely het en in pyn was, beteken dat die wet op dierebeskerming, wat wreedheid teenoor diere verbied, ook oortree is.
“Baie min mense verstaan dat dié vlak van oortreding tot kriminele vervolging kan lei en as jy skuldig bevind word, sal jy ’n kriminele rekord hê.”
Die DBV ondersoek die gebeure en het gevra dat enige iemand met inligting, hul kantoor skakel by 017 632 2654.
Feral Care Friends fokus daarop om gesonde katkolonies met gesteriliseerde katte te ondersteun en het die publiek se hulp nodig om hul werk te kan doen.
“Ons kan nie net katte wegneem wat mense pla nie, daar sal binne etlike weke nog katte intrek.
“Die enigste wetenskaplik-erkende oplossing vir wildekatkolonies is om die diere te vang, te toets vir siektes, in te ent, te steriliseer en weer vry te laat sodat hulle die gebied waar hulle leef, teen ander katte kan beskerm.”
Me. Van Zyl het Herbert Bakerstraat weer onlangs besoek en ander babakatjies gevind wat moontlik familie is van die katjie wat geskiet is.
“Ons weet nou van hulle en gaan hulle dophou en met hulle werk.”
Vir meer inligting oor haar organisasie, besoek Feral Care Friends Secunda se Facebookblad.



