Bethal-seun vier 11de verjaarsdag tuis met groot verjaarsdagpartytjie na brandongeluk
Al kon Kyle nie op ’n motorfietsrit gaan nie, kon hy vir ’n rukkie op ’n motorfiets sit tydens sy partytjie.
Nadat hy vir meer as twee maande in die hoësorgbrandeenheid in ’n hospitaal op Alberton bestee het, is Kyle Werner met ’n reuse verjaarsdagpartytjie terug by die huis verwelkom.
Hy het sedert 4 Maart talle operasies en behandeling ondergaan om die wonde wat hy opgedoen het toe hy vroeër vanjaar met brandstof by sy huis op Bethal gebrand het, te behandel
Kyle is op 1 Junie ontslaan om verder by die huis aan te sterk.
“Hy was baie opgewonde want dit was die eerste keer in 88 dae dat hy kon klere aantrek,” het me. Engela Werner, Kyle se ma, gesê.
Kyle, wat steeds sukkel om te loop weens pyn, het op 3 Junie sy 11de verjaardag op Secunda saam met die mense wat vir hom omgee gevier.
Die tema was motorfietse.
Talle motorfietsryers het na die restaurant gegaan om hul ondersteuning te wys.
Kyle het ’n leermotorfietsonderbaadjie aangetrek en is met blou melkskommel en baie geskenke bederf.
Vir Kyle was die gunsteling deel van die dag toe hy die motorfietsryers ontmoet het.
Dit was nie vir hom moontlik om op ’n motorfietsrit te gaan nie, maar hy kon wel vir ’n rukkie op ’n motorfiets sit en dit van nader bekyk.
Me. Werner het almal betrokke, bedank, veral Chain Reaction Bikers wat ’n fiets aan Kyle geskenk het.
Die gesin het ook Kyle se skool, Laerskool H.M. Swart wat die daaglikse koste om vir Kyle op Alberton te gaan kuier, betaal het.
“Ons is dankbaar teenoor die restaurant en Alice en Stian wat die koek laat maak het, vir Magdel vir Kyle se bed, Annelien vir al haar hulp en Jossy vir die reël van die partytjie.“
Herstelproses
Hoewel die brandwonde wat Kyle op 3 Maart opgedoen het toe hy ’n proppie vol brandstof wat sy ouers gekoop het om die gras mee te sny, aan die brand gesteek het, meestal toegegroei het nadat hy verskeie veloorplantings ondergaan het, is daar dele wat steeds besig is om te herstel.
Kyle moet elke vyf dae na die hospitaal op Alberton geneem word sodat sy wonde skoongemaak en die verbande omgeruil kan word.
Daar is nog onsekerheid oor wanneer Kyle na die skool sal kan terugkeer omdat hy nog nie kan loop nie.
Die herstelproses gaan nog lank duur, maar Kyle en sy ondersteuningsraamwerk is reg vir die uitdagings wat nog voorlê.
- Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.Standerton Advertiser & Highvelder
- ”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.




